Nuwe PhD’s is soos musiek in ons ore

Onsekerheid is aan die orde van die dag, en twyfel oor die toekoms is teenwoordig by almal behalwe die mees optimistiese siele onder ons. Wat egter konstant gebly het, is die Noordwes-Universiteit (NWU) se enorme navorsingsuitset en ons navorsers se onuitblusbare nastrewing van uitnemendheid.

By die Mei- en Junie-gradeplegtighede is 136 PhD’s toegeken, met nog meer seremonies wat tot die einde van die jaar gaan volg.

Hoewel daar tydens ons verskillende inperkingstadiums min geleenthede was om lewendige kunsuitvoerings te ondersteun, kan ons steeds troos in hulle digitale gedaantes vind. Daarom kan ons let op die drie Doctor Musicae-grade (DMus-grade) wat aan navorsers by die Fakulteit Geesteswetenskappe toegeken is.

Al drie het ’n eiesoortige benadering tot ’n universeel-geliefde vak gehad.

Polina Burdukova se tesis is getitled “The interpretation of Hans Huyssen’s Ugubu: a critical hermeneutic analysis through performative research”. Sy demonstreer daarin dat die kombinering van praktykgebaseerde navorsing en hermeneutiek gelei het tot ’n interpretasie van Ugubu wat in ’n oortuigende optrede aan die publiek bekendgestel kan word om só moderne musiek meer toeganklik te maak. Hans Huyssen, ’n komponis wat in Pretoria gebore is, is ’n komponis asook ’n Barok-tjellis.

In Sharon de Kock se tesis, “Exploring five professional violinists’ lived experiences of performance-related pain: an interpretative phenomenological analysis”, vestig die navorser die aandag op die talle musici wat met pyn en beserings sukkel, en tog het min van hulle die moed om oor hulle lyding te praat. Sy gee ook nuttige inligting deur aan violiste, studente, onderwysers en professionele uitvoerende kunstenaars wat pyn ervaar wat met oefening en optredes verband hou. 

Laastens is daar Laetitia Annette Orlandi se tesis, “Exploring five professional pianists’ spiritual experiences during music-making: an interpretive phenomenological analysis”. Sy beweer dat die spirituele musiekuitvoeringservarings van professionele pianiste in verbondenheid en gewyde ervarings gegrond is. Sy het ’n teorie ontwikkel wat beweer dat deur musiek te maak, spirituele ervarings deur verbondenheid en intensie opgewek word.

Dit is slegs kort opsommings van ’n geweldige hoeveelheid navorsing. Musiek sal egter nou en vir altyd geborgenheid verskaf, maar dit is danksy navorsers soos dr Laetitia Annette Orlandi, dr Sharon de Kock en dr Polina Burdukova wat ons ’n dieper waardering van hierdie baie unieke metgesel verkry. 

Submitted by MARELIZE SANTANA on Tue, 08/10/2021 - 13:05