Nuwe NWU-genootskap bevorder oop opvoedkundige hulpbronne

Die deel van kennishulpbronne is ’n groeiende wêreldwye tendens en die Noordwes-Universiteit (NWU) het met ’n unieke Suid-Afrikaanse inisiatief begin om die skep en gebruik van oorspronklike oop opvoedkundige hulpbronne te bevorder.

Die NWU-genootskapsprogram vir oop opvoedkundige hulpbronne is onlangs bekend gestel en onderskryf en stimuleer navorsing oor die aanpassing of skep van oop opvoedkundige hulpbronne*.

Prof Jako Olivier, bekleër van die UNESCO-leerstoel oor Multimodale Leer en Oop Opvoedkundige Hulpbronne en inisieerder van die program, sê dat die genootskap uniek is in Suid-Afrika en ten doel het om kostedoeltreffende en hoogs aanpasbare opsies vir leer in ’n tegnologie-verbeterde omgewing te ondersteun.

Hy sê dat die program ’n ideale geleentheid is om ondersteuning en befondsing te verskaf vir akademiese personeel wat nuwe aanlyn hulpbronne in hulle klasse wil insluit of hulle hulpbronne by die behoeftes van hulle studente wil aanpas.

Genootskap laat NWU se doelwit vir toegang realiseer

Volgens prof Olivier gaan die program oor toegang en deling. Die hulpbronne wat geskep word, sal deur ’n oop lisensie aanlyn gedeel word wanneer die program afsluit.

“Die program is belangrik om die doelwit te bereik wat die NWU vir homself gestel het met sy verklaring oor oop opvoedkundige hulpbronne wat in 2018 goedgekeur is. Die universiteit het homself verbind om die skep, hergebruik, hersiening, hervermenging, herverspreiding en behoud van oop opvoedkundige hulpbronne in ’n ooplisensieraamwerk te bevorder.”

Toekenning gee oop opvoedkundige hulpbronne ’n hupstoot

Die genootskap, wat 18 maande duur, sluit ’n finansiële toekenning in vir die aanpassing of skep van oop opvoedkundige hulpbronne. Dit sluit ’n toekenning van R40 000 in vir die ontwikkeling van hierdie hulpbronne en R7 000 vir die aanlyn bywoning van konferensies en aanbiedings vir elkeen van die 22 genote.

Genote sal die geleentheid hê om ’n aantal werkswinkels deur kundiges oor oop opvoedkundige hulpbronne en oop pedagogie by te woon, asook om mentorskap van kundiges te ontvang.

“Die fokus van die individuele werkswinkels is oop lisensiëring, oop pedagogie, navorsing oor oop opvoedkundige hulpbronne en hoe om die navorsing te dokumenteer.”

Prof Olivier sê dat die genote ondersteuning sal ontvang om hulle te help om oop opvoedkundige hulpbronne soos oop handboeke, aanlyn tutoriale, Wikibooks of kombinasies van oopleervoorwerpe, insluitende video’s, interaktiewe aktiwiteite en selfs eenvoudige aanlyn speletjies, te skep of aan te pas.

’n Boekpublikasie deur die genote van die oop opvoedkundige hulpbronneprogram oor die proses en implementering word ook beplan.

Hierdie akademici sal die fakkeldraers wees

Ná ’n aansoekproses is 12 projekte geselekteer. Hierdie projekte is vanaf al drie van die kampusse van die NWU verkry, en spesifiek uit die fakulteite van Natuur- en Landbouwetenskappe, Gesondheidswetenskappe, Geesteswetenskappe en Regte. Die akademici en navorsers wat by hierdie 12 projekte betrokke is, is vir 2021 tot 2022 as genote vir die oop opvoedkundige hulpbronneprogram gekies.

Prof Olivier en prof Linda du Plessis, adjunkhoof en adjunk-visekanselier vir beplanning en Vanderbijlparkkampusbedrywighede, het die name op 31 Mei hierdie jaar aangekondig. Om na die aankondiging te kyk, volg dié skakel: https://youtu.be/9kqi5pVhSo8

Hulle is: Dr Christo Bisschoff, dr Christmal Christmals, Baaqira Ebrahim, dr Yolande Heymans en prof Cornelie Nienaber-Rousseau uit die Fakulteit Gesondheidswetenskappe.

Die genote uit die Fakulteit Geesteswetenskappe is dr Jess Auerbach, dr Yolandi Coetser, André Gouws, prof Chantelle Gray van Heerden, Carina Grobler, Nolwandle Lembethe, Sysman Motloung, dr Godswil Nwabuisi Osuafor, Juan Steyn, Aida Terblanche-Greeff en dr Mignon van Vreden.

Kabelo Mutubi is uit die Fakulteit Regte, en die genote uit die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe is Mario Chauque, prof Bukohwo Michael Esiefarienrhe, Chandré Liebenberg en dr Aurelia Williams.

Vir meer inligting oor die program, stuur ’n e-pos aan prof Olivier by jako.olivier@nwu.ac.za.

*Oop opvoedkundige hulpbronne sluit opvoedkundige materiaal in verskillende formate in wat onder ’n oop lisensie gepubliseer word, gratis toegang verleen, en vir hergebruik, heraanwending, aanpassing en herverspreiding beskikbaar is. Hierdie hulpbronne kan volle oop kursusse, oop handboeke, lesingnotas, sillabusse, video’s, sagteware, werkopdragte en toetse insluit.

........

Prof Jako Olivier, bekleër van die UNESCO-leerstoel oor Multimodale Leer en Oop Opvoedkundige Hulpbronne
 

Submitted on Mon, 05/31/2021 - 12:08