Noordwes-Universiteit gee erkenning aan sy baanbreker-alumni

Die alumni van die Noordwes-Universiteit (NWU) skitter deurlopend op hulle onderskeie kundigheidsgebiede, nasionaal sowel as internasionaal. Die NWU het tien van hierdie merkwaardige beroepslui tydens die universiteit se glansryke geleentheid vir die alumnitoekennings vir uitnemendheid (Alumni Awards of Excellence) op 9 November in Pretoria vereer.

Hierdie toekennings gee erkenning aan buitengewone alumni wat uitmuntende bydraes in hulle loopbane en in die samelewing lewer.

Die ererol vir hierdie jaar se toekennings sluit tien ontvangers uit alle sfere van die samelewing in. Onder hulle is ’n buitengewone bemarkingskundige, ’n legendariese navorser, ’n wetgewende transformeerder, ’n Ndebele-kultuuraktivis, ’n internasionaal erkende kliniese en sportsielkundige, ’n kunshistorikus en kunstenaar, ’n visionêre innoveerder in volhoubare landbou, en ’n jong baanbreker en mensehulpbronbestuurkampioen.

Die leeftydprestasietoekenning het aan prof Dan Kgwadi, die NWU se voormalige hoof en visekanselier, gegaan. Hierdie toekenning is postuum toegeken ter erkenning van prof Kgwadi se uitmuntende en deurslaggewende leierskap wat die NWU op sy pad na transformasie geplaas het. Die ondersoekende joernalis Susan Cilliers het ’n spesiale toekenning vir haar bydrae aan die samelewing ontvang.

Ontvangers van die alumnitoekennings

· Amé Bell, toekenning vir kuns en kultuur

· Dr Monicca Bhuda, toekenning vir opvoedkunde

· Susan Cilliers, spesiale toekenning

· Prof Kobus Eloff, toekenning vir navorsing

· Louis-Gillis Janse van Rensburg, toekenning vir gemeenskapsbetrokkenheid

· Dr Dumisani Jantjies, toekenning vir openbare diens

· Prof Ntate Dan Kgwadi, leeftydprestasietoekenning

· Prof Pieter Kruger, toekenning vir Sport

· Dr Alistair Mokoena, toekenning vir sakeleierskap

· Prof Musawenkosi Donia Saurombe, toekenning as jong alumnus

Die gesogte NWU-alumnitoekennings is vir die agtste keer aan verdienstelike alumni toegeken. Vorige ontvangers sluit ’n groep bekende vooraanstaande en gerespekteerde Suid-Afrikaners in, onder andere prof Anis Karodia, regter Yvonne Mokgoro, prof Bismark Tyobeka, adv Andy Mothibi, prof Pieter Stoker, mnr FW de Klerk, regter Frans Kgomo, prof Fika Janse van Rensburg en prof TT Cloete.

Mnr Bert Sorgdrager, voorsitter van die NWU Raad en president van die Konvokasie, sê die alumnitoekennings vir uitnemendheid is erkenning vir die ontvangers se uitsonderlike bydraes in hul onderskeie velde. “Ek is veral trots en positief oor die toekoms as ek van die jong ontvangers hier sien.”

Volgens Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier, is die NWU, ʼn vennootskap tussen verskeie belanghebbers om ʼn gemeenskap en kultuur te bou. “Die sukses van hierdie universiteit word gemeet deur die alumni se bydraes om ʼn beter samelewing te skep.”

Vir meer inligting, die volle besonderhede van elke ontvanger en die foto’s, besoek: https://www.nwu.ac.za/alumni-awards-recipients-2023.

,,,

Die ontvangers van die NWU se 2023 alumnitoekennings vir uitnemendheid is Prof Kobus Eloff, Dr Dumisani Jantjies, Chris Nell (namens Louis-Gillis Janse van Rensburg), Dr Monicca Bhuda, Susan Cilliers, Prof Musawenkosi Donia Saurombe, Amé Bell, Ofentse Kgwadi (namens Prof Ntate Dan Kgwadi) en Dr Alistair Mokoena. Agter is Prof Pieter Kruger en Phenyo Kgwadi (namens Prof Ntate Dan Kgwadi).

Submitted on Fri, 11/10/2023 - 06:44