Navorsing bekyk hoe interpretasie Bybellees in Afrika bepaal

Die manier waarop die Skrif gelees en geïnterpreteer word, het ’n beduidende invloed op wat mense in die Bybel lees. Dit bepaal ook hulle benadering tot kwellende en aktuele kwessies waarmee gelowiges worstel.

Dít is die fokus van prof Marius Nel, navorsingsleerstoel in Ekumenisme: Pentekostalisme en Neo-Pentekostalisme, se navorsing oor die pentekostalistiese beweging. Prof Nel, ’n gereelde ontvanger van die toekenning as die Noordwes-Universiteit (NWU) se produktiefste navorser, sê hy is gefassineer deur temas wat op die terrein van die pentekostalistiese beweging funksioneer.

“My navorsing is daarop gerig, nie om te vra wat sê die Bybel daaroor nie, maar om te bepaal hoe die manier waarop mens die Bybel lees en interpreteer – dus jou hermeneutiek – ʼn invloed het op wat jy in die Bybel daaroor lees.”

Prof Nel is by die Eenheid vir Reformatoriese Teologie en die Ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Samelewing in die Fakulteit van Teologie op die Potchefstroomkampus.

Hy verduidelik dat hy ’n model vir ’n Afrika-pentekostalistiese hermeneutiek ontwikkel het. Hierdie model is gegrond op die unieke pentekostalistiese kultuur of etos, en in reaksie op die letterlike manier waarop talle pentekostaliste die Bybel lees.

Navorsing fokus op vyf aktuele temas

Sy navorsing het uitgebrei na vyf temas: pasifisme; die leer van die laaste dinge (eskatologie); LGBTIQ+-kwessies; voorspoedteologie (gewild by neopentekostaliste); en die versoening van lyding met ʼn goeie en almagtige God (teodisee).

Pasifisme is sterk deur vroeë pentekostalisme bevorder en verwys na ’n weerstand teen dit wat beginsels versaak. Die latere Skrifgebruik het hieroor van standpunt verander, sodat hulle politieke stelsels – dikwels kritiekloos – ondersteun het.”

Prof Nel sê deur die Bybel byna fundamentalisties te lees, veroorsaak dat die geweldtekste wat Israel se ideologie van oorheersing in Kanaän weerspieël, op hedendaagse Christene se lewe en situasies toegepas word.

“Die bevinding is dat wanneer bybelse eise vanuit die charismatiese ervaring van ontmoetings met God se Gees gelees word, pasifisme ʼn eis word wat die hart van die evangelie (en van die God van die kruis) weerspieël.”

Sy bevindinge oor die leer van die laaste dinge was dat die taal waarin Nuwe Testamentiese skrywers oor die tweede koms van Christus praat, dikwels metafories en simbolies is, en dus nie letterlik geïnterpreteer kan word nie.

Die LGBTIQ+-saak is veral relevant in Afrika waar diskriminasie en haatgedrag teen mense met alternatiewe seksuele oriëntasies steeds wyd voorkom. “Talle pentekostaliste verwerp alternatiewe seksuele oriëntasies en beskou dit as sonde. Hulle regverdig hulle sienings deur te fokus op die enkele verwysings wat in die Bybel voorkom, sonder om groot kulturele verskille hieroor tussen antieke en kontemporêre tye in ag te neem.”

Prof Nel het bevind dat die kerk geen rede het om LGBTIQ+-mense die byeenkomste van gelowiges te ontsê nie. “Die oproep om mense lief te hê, weerklink veel harder as die Ou Testamentiese eis dat so iemand verwerp moet word.”

Voorspoedteologie verteenwoordig die onafhanklikekerkebeweging, en is veral gegrond op die Deuteronomistiese geskiedskrywing wat uit die Bybelboeke Deuteronomium, Josua, Rigters 1 en 2, Samuel 1 en 2, en Konings bestaan.

“Dit vertel die geskiedenis van Israel patroonmatig, aan die hand van die formule: as jy doen wat God behaag, gaan dit baie goed met jou; as jy dit nie doen nie, verdien jy die smarte en ellende wat jy ervaar.

“Die doel van die geskiedskrywing is om te verduidelik hoekom Juda as gevolg van ontrouheid en die dien van afgode in ballingskap was. Die toepassing van dieselfde beginsel op die kontemporêre kerk lei daartoe dat jy beweer: omdat ek die Here getrou dien, is ek gesond en ryk, gaan dit altyd voorspoedig, en het ek slim kinders wat presteer.”

Prof Nel sê ’n verstommende aantal Afrika-Christene hang dié leer aan, ten spyte van die feit dat die meeste van hulle in armoede leef. Sy bevinding is dat die formule nie houdbaar is nie, gegewe die res van bybelse getuienis en die eksistensiële belewenisse van gelowige mense.

Hy sê een van die algemeenste kwelvrae van Christene is hoe ’n mens lyding met ’n goeie en liefdevolle God kan versoen. “Talle pentekostaliste gebruik die beginsels van voorspoedteologie en kom dan tot die gevolgtrekking: as dit nie goed gaan nie, en jy nie gesond en voorspoedig is nie, dan is dit omdat jy gesondig het en God jou straf, of omdat God jou dissiplineer.”

Sy bevinding in teodisee is dat God Hom openbaar as die God wat in mense as individue belangstel, maar wie Hy is, bly vir ons ’n misterie. Christene leef in die verwagting van ’n nuwe aarde waar God se blyplek (die hemel) in hulle midde gaan wees en God regeer, en God alle trane van hulle oë afvee omdat die dood en stukkendheid wat die skepping kenmerk, vernietig sal wees. Intussen gee gelowiges hande en voete aan hulle gebed dat die koningsheerskappy aanbreek deur kos en komberse vir honger en arm mense te gee.

Prof Marius Nel

Prof Marius Nel, navorsingleerstoel in Ekumenisme: Pentekostalisme en Neo-Pentekostalisme is tydens die jaarlikse NWU-navorsingtoekennings vir drie agtereenvolgende jare (2017-2019) as die produktiefste navorser aangewys.

 

Submitted on Tue, 08/10/2021 - 12:08