Navorser ondersoek privaatetiket-handelsmerke in Suid-Afrika

Privaatetiket-handelsmerke het oor die afgelope paar jaar in die kleinhandelafdeling vir kruideniersware veld gewen. Hulle is nie net meer alternatiewe vir die grootnaam-handelsmerke nie, maar is vinnig besig om die voorkeurhandelsmerke te word – mits daar aandag aan die persepsies oor gehalte gegee word.

Só sê Gift Ndlovu, ’n navorser van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Hy het onlangs ’n navorsingsreferaat getiteld “Customers’ brand awareness, brand trust and brand loyalty for private label brands in South Africa” oor die onderwerp gepubliseer, wat plaaslike kliënte se persepsies en verbruikersgewoontes ondersoek het.

Privaatetiket-handelsmerke sluit produkte in wat deur kruidenierskleinhandelaars onder hulle eie handelsname vervaardig word. Dit gee aan kleinhandelaars die geleentheid om hulleself te onderskei en ’n voordeel bó hulle mededingers te kry.

Voorbeelde van hierdie handelsmerke sluit Shoprite se Ritebrand-, Checkers se Housebrand- en Pick n Pay se No Name- en PnP-handelsmerke in.

Kliënte vertrou nie heeltemal privaatetiket-handelsmerke nie

Gift sê die groei van privaatetiket-handelsmerke skep geleenthede vir kleinhandelaars om aan kliënte meer produkkeuses te gee. Daar is ruimte vir verdere groei, aangesien sy navorsing toon dat kruidenierskleinhandelaars ’n noodsaaklike rol speel om gunstiger persepsies by kliënte vir hierdie privaatetiket-handelsmerke te skep.

Kleinhandelaars sal egter sekere wanopvattings moet uitskakel wat in die navorsing na vore gekom het, en waarvoor Gift 389 verbruikersopnamevraelyste laat invul het en onderhoude met 10 kruidenierskleinhandelaars gevoer het.

“Die resultate van die kliënte sowel as die kruidenierskleinhandelaars se bestuurders het getoon dat, hoewel kliënte van die privaatetiket-handelsmerke bewus was, hulle nie die gehalte heeltemal vertrou het nie,” sê hy.

Nietemin het kliënte dikwels die privaatetiket-handelsmerke gekies omdat dit goedkoper as die kommersiële handelsname was. Dit is veral waar tydens moeiliker ekonomiese omstandighede. Die prys speel ook ’n deurslaggewende faktor in lojaliteit teenoor die privaatetiket-handelsmerke.

Gift glo dat hierdie navorsing vir Suid-Afrikaanse kruidenierskleinhandelaars iets gee om oor na te dink.

“Dit sal hulle help om persepsies van kliënte te verstaan en om hulle privaatetiket-produkte meer kliëntgerig te maak. Hulle kan hierdeur kliënte se vertroue in hierdie produkte bevorder en sorg dat dit meer dikwels die handelsmerk van keuse in die kruidenierskleinhandelsektor word.”

Gift Ndlovu

Gift Ndlovu.

 

Submitted on Mon, 10/25/2021 - 10:19