Navorser met onlangse B-gradering jaag nuwe probleme oor antieke kulture na

Prof Jaco Gericke het nie ’n ortodokse benadering tot navorsing op sy gebied, antieke kultuur, nie, en in ’n sekere sin het dit soms al teen hom getel. Die gety het egter gedraai, en die feit dat sy werk nie in die hoofstroom van vakkundigheid is nie, kan as ’n voordeel beskou word. Dit het daartoe gelei dat die Nasionale Navorsingstigting (NNS) aan prof Gericke, ’n medeprofessor by die Fakulteit Teologie op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vanderbijlparkkampus, ’n gesogte B-gradering toegeken het.  

Hy sê sy navorsingsfokus was nog altyd “ietwat van ’n anomalie” in die hoofstroomvakkundigheid op sy gebied.  Hoewel sy navorsing op antieke tekste fokus, en veral dié van die Nabye Ooste en spesifiek die Ou Testament, is navorsing wat nie die gebaande weë volg nie, dit wat die reis juis soveel lonender maak.

“In plaas daarvan om bloot by bestaande besprekings aan te sluit, was die uitdaging nog altyd om nie slegs probleme op te los nie, maar om nuwes te identifiseer, oues te kompliseer en geskiedkundig-bewuste filosofies-teoretiese raamwerke te ontwikkel vir die bestudering van tekste wat nie gewoonlik op hierdie wyse met filosofie verband hou nie,” sê prof Gericke.

Sy oorspronklike bydrae was om bybelse (spesifiek Ou Testamentiese) vakkundigheid weer by die dialoog met godsdiensfilosofie en filosofiese teologie in te sluit.  Hy sê hierdie interdissiplinêre belangstelling het veral tydens die 20ste eeu ’n slegte naam gekry – dikwels met reg.

Prof Gericke wou interdissiplinêre navorsing in ’n nuwe lig stel en het begin om te toon hoe nuwe ontwikkelings in besprekings oor godsdiensonderwerpe in analitiese en kontinentale filosofie aanvaar en aangepas kan word. Dit word ter wille van ’n vergelyking van antieke en eietydse konsepte gedoen om sodoende die vreemde wêrelde van die verlede en die eietydse tale wat ons gebruik om daaroor te praat, duidelik te maak.
 
“Dit is verstaanbaar dat talle van my eweknieë vir ’n aantal jaar geen verwysingsraamwerk gehad het vir wat ek voorstel nie. Nadat ek dosyne artikels in portuurbeoordeelde vaktydskrifte gepubliseer het, hoofstukke vir geredigeerde volumes gelewer het, en drie monografieë geskryf het wat deur groot internasionale uitgewers gepubliseer is, het die gety stadig begin draai,” sê hy.  

Prof Gericke se nuwe metode is oor die afgelope agt jaar al hoe meer aanvaar en voorste internasionale vakkundiges het hom aangehaal en aanbeveel. Hy het ook uitnodigings ontvang om by konferensies oor antieke tale van die Nabye Ooste en bybelse tekste en godsdiensfilosofie te praat of sulke konferensies te reël. Dit alles, en verwante seminare en uitnodigings van sy plaaslike en internasionale eweknieë om meer van sy werk aan te bied, het tot die eindresultaat bygedra – ’n B-gradering van die NNS.

Dit beteken baie, nie net vir prof Gericke nie, maar ook vir sy kollegas by die NWU en die fakulteit as gevolg van wat die gradering verteenwoordig. “Om ’n B-gradering te kry, beteken dat ’n mens nie net meer as ’n gevestigde navorser beskou word nie, maar ook as een wat beduidende internasionale erkenning vir die gehalte en impak van jou werk ontvang het,” sê hy.

“Ook, om hoegenaamd enige gradering te ontvang, vereis jare van toegewyde werk, en almal wat dit regkry, word deur hulle instellings vereer en gevier, en dit stel hulle in staat om hulle graderings deurlopend te verbeter, terwyl hulle in teoretiese innovering spesialiseer.
“Dit is iets waarvoor ek baie dankbaar is. Dit beteken dat al die geswoeg – aanvanklik in relatiewe onbekendheid, maar met die doel om die teenoorgestelde te bereik – al die pogings en opofferings die moeite werd maak.”

Jaco Gericke

Prof Jaco Gericke.

Submitted on Thu, 02/17/2022 - 22:10