ʼn Ruimhartige gebaar: Kleredonasieprojek tot voordeel van gemeenskappe

Die Gemeenskaps- en belanghebberbetrokkenheidskantoor van die Studente-kampusraad (SKR) op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs sy jaarlikse Kaalvoetdag gehou.

Die doel van hierdie geleentheid is om klere en skoene aan verskillende projekte, skole, tehuise en niewinsgewende en nieregeringsorganisasies te skenk. 

In lyn met tradisie, pak studente hulle daaglikse roetine sonder skoene aan op Kaalvoetdag, en hierdie jaar het ʼn klere-resies en modeparade vir nog meer pret gesorg.

In aanloop tot die dag het koshuise en lede van studente-afdelings klere ingesamel, dit geweeg en daarna aan verskeie projekte toegeken. Hierdie jaar het die SKR ’n totaal van 16 966 kg klere bymekaargemaak, wat nie die komberse en gordyne insluit wat as ekstras geskenk is nie, en ook in die gemeenskap benodig word.

Mercy Tau, die gemeenskaps- en belanghebberbetrokkenheidsbeampte van die SKR, sê hulle skenk klere aan hulle onderskeie projekte en aan die verskillende organisasies wat klere aangevra het. Sy voeg by dat hulle hul uitnodiging vir versoeke nie tot inwoners van Potchefstroom beperk nie, maar dit vir enigeen in nood oopstel.

“Ons vereis wel ’n formele e-pos of brief voordat ons organisasies die geleentheid gee om die klere te kom haal,” sê sy.

Die koshuise se huiskomiteelede en lede van studente-afdelings met gemeenskaps- en belanghebberbetrokkenheid as portefeulje het daarna die klere tydens bepaalde afleweringstye afgelaai by die JOOL-plaas, van waar dit dan afgehaal kon word.  

Deel warmte en deernis – Kaalvoetdag laat die harte van Potchefstroomgemeenskappe warm klop.

Submitted on Thu, 09/28/2023 - 12:22