MSc Ingenieurswese-student in aanmerking vir top- wêreldwye toekenning

Leané Naudé, ’n MSc-student in Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU), pak in Mei haar tasse vir Amsterdam om Suid-Afrika by die finale rondte van die wêreldwye Blue Sky- wetenskapkompetisie te verteenwoordig.

Sy het hierdie eer verdien deur tweede te kom in verlede jaar se nasionale kompetisie vir die Blue Sky-toekennings, ’n tweejaarlikse kompetisie wat erkenning gee aan die werk van studente en jong navorsers in bosgebaseerde wetenskaplike produkontwikkeling.

Leané, wat tans as chemiese ingenieur-in-opleiding by Sappi se tegnologiesentrum in Pretoria werk, sê haar NWU-studieleier, prof Sanette Marx van die Sentrum van Uitnemendheid in Koolstofgebaseerde Brandstowwe, het haar aangemoedig om vir die kompetisie in te skryf.

Leané, wat teen 17 ander plaaslike en internasionale deelnemers aan die nasionale gebeurtenis deelgeneem het, het ’n kostedoeltreffende suiweringsmetode vir lignosulfonaat – ’n alternatief vir fossielgebaseerde produkte – ontwikkel.

 Nadat sy tweede in die nasionale kompetisie geëindig het, is sy saam met 14 ander deelnemers vir die internasionale rondte ingeskryf, waar sy onder die topdrie geëindig het, en so gesorg het dat sy en twee ander deelnemers hierdie Mei hulle individuele projekte in Amsterdam gaan aanbied.

“Dit is ’n groot eer en voorreg om by een van die topdrie van die Blue Sky-toekennings ingesluit te word. Dis ’n ongelooflike geleentheid om ’n aanbieding voor hoogs gerekende individue in die wetenskapgemeenskap te kan doen,” sê sy.

Leané

Leané Naudé is een van drie vroue wat vir ’n wêreldwye Blue Sky-toekenning in aanmerking kom.

Leané verduidelik waarom die Blue Sky-toekennings iets besonders is.

Submitted on Mon, 02/13/2023 - 10:07