Momentum Beleggings Aardklop 2023 vier sy sukses

“Die produksies en pret van die afgelope week in Potchefstroom is die bewys dat Aardklop met mening terug is.”

Hierdie woorde van prof Daryl Balia, voorsitter van die Aardklop-direksie en die adjunk-visekanselier vir inligtingstegnologie en Potchefstroomkampusbedrywighede aan die Noordwes-Universiteit (NWU), word beaam deur Alexa Strachan, hoof- uitvoerende beampte van Momentum Beleggings Aardklop 2023 Nasionale Kunstefees, wat sê dat die fees ongetwyfeld die lewens verryk het van diegene wat dit bygewoon het.

“Ek kon nêrens gaan sonder dat ek komplimente oor onder andere die gehalte van die program en die netheid van die feesterrein ontvang het nie.”

Lede van die Aardklop-direksie stem saam. “Die entoesiastiese ontvangs wat gehore gehad het en die ondersteuning van nuwe borge het dit vir Aardklop moontlik gemaak om ’n noodsaaklike bydrae tot die kulturele ekonomie en bestaan van kunstenaars te maak.  Dit word hoogs waardeer,” sê dr Ismail Mahomed. Francois Strydom glo dat harde werk en goeie beplanning tot die sukses van die fees bygedra het. “Ons wil vir Alexa en haar span bedank vir dit wat hulle bereik het – ons waardeer hulle toewyding,” beaam Heinricha Hodgson.

Verskeie mediaberigte het gesê dat hierdie jaar se fees alle verwagtings oortref het, en iets vir almal gebied het. Die bywoningsyfers was wonderlik, en die teaters was volgepak met entoesiastiese en positiewe gehore.

Dié wat dit bygewoon het, kon kies en keur tussen alles wat die verskillende stalletjies gebied het, hulle kon meesterlike teaterproduksies bywoon, na boekbesprekings deur van Suid-Afrika se beste skrywers en ook na debatte deur politieke leiers en joernaliste luister, hulle kon asemrowende uitstallings en kuns bewonder, en na strelende of prettige musiek luister.   

“Dit was wonderlik om Aardklop in al sy glorie op die NWU se terrein en in die geriewe in Potchefstroom terug te hê,” sê Jean-Marc Stidworthy, hoof van Bemarking en Studentewerwing by die NWU. “Die betekenisvolle rol wat die kunste in die samelewing speel, moenie onderskat word nie. Die ontdekkingsreis van elke produksie help om diegene wat dit bygewoon het, te transformeer en te ontwikkel. Dit is ’n eer vir die NWU om dit op ons terrein aan te bied en ons is dankbaar vir die geleenthede wat dit vir ons kunstenaars en studente gebied het.”

Hierdie jaar was dit ook die aanvang van die NWU Nuushonde-projek, wat hardwerkende en innoverende studentejoernaliste van die NWU die geleentheid gegee het om hulle vaardighede te slyp. Die groep van 15 studente, onder leiding van Coréne Marx, dosent in Joernalistiek en Mediastudies, was deur hulle verslaggewing vir die skepping van opwindende inhoud vir sosiale media verantwoordelik. Dit sluit die foto’s en insiggewende artikels van ’n hoë gehalte in.

Fränzo Friedrich, hoof van Bemarking vir Momentum Beleggings Aardklop, die fees se borg, sê dit was ’n voorreg om iets tot die kunste te kon bydra en ’n rol in die fees se sukses te speel.

Die borge van die gebeurtenis is al lankal by die fees betrokke. Hulle sluit Momentum Beleggings, Media 24, die NWU se Potchefstroomkampus, kykNET en die ATKV in. Skenkers sluit AK21, NATi, Dagbreek Trust en die LW Hiemstra Trust in. Nuwe vennote sluit Heineken Beverages, Suzuki Auto Suid-Afrika en Eskort in.

Submitted on Tue, 10/10/2023 - 13:08