Moeders en kinders agter tralies het voor- en nadele

In Suid-Afrika kan ’n vrou wat tronkstraf uitdien vir die misdaad wat sy gepleeg het, haar kind by haar in die korrektiewe instelling hê. Dit word vir die eerste twee jaar van die kind se lewe toegelaat en stel die ma en kind in staat om ’n band te vorm.

Volgens ’n studie wat uitgevoer is deur Belinda Ruzvidzo, ’n LLM-gegradueerde van die Noordwes-Universiteit (NWU), is daar negatiewe gevolge op emosionele en fisieke vlak vir kinders wat in tronke woon.

Belinda se studie, getiteld “An analysis of the South African law governing minors living with their mothers”, het die effek op en regte van kinders ondersoek wat by hulle moeders in tronke woon, en hoe die lewensomstandighede in die tronk die realisering van hierdie regte beïnvloed.

Die studie is tussen 2015 en 2017 uitgevoer. Belinda het onder die studieleiding van prof Melvin Mbao en prof Linda Muswaka van die NWU se Fakulteit Regte gewerk.

Die goeie, die slegte en die onaangename

Belinda het tydens haar navorsing die Suid-Afrikaanse Wet op Korrektiewe Dienste, 1998 (soos gewysig) ontleed, en ’n vergelykende studie met die wette van lande soos Amerika en Australië gedoen.

Hoewel babas en jong kinders ’n band met hulle moeders opbou terwyl hulle in korrektiewe sentrums in Suid-Afrika woon, is hulle van die res van die gesin geskei.

Die studie het bevind dat klein kinders wat saam met hulle versorgers in korrektiewe sentrums woon, as gevolg van die beperkende tronkomgewing negatief deur die rigiditeit van die tronkstelsel geraak word. Die gebrek aan blootstelling aan ’n lewe buite die tronk en aan manlike rolmodelle kan daartoe lei dat kinders sukkel om in die samelewing aan te pas.

Belinda sê haar navorsing het die tekortkominge uitgewys van die Suid-Afrikaanse regsraamwerk wanneer daar met kinders gewerk word wat by hulle moeders in tronke woon. “Een vername swak punt van die huidige wetgewing is die gebrek aan alternatiewe vir die plasing van babas of vir die woonomstandighede in die tronk,” sê sy.

 Daar moet nog steeds baie gedoen word, en hierdie navorsing is nie die einde van die pad vir Belinda nie. Sy beplan om verdere navorsing te doen wat maniere sal help vind om die lewens te verbeter van kinders wie se moeders opgesluit is.

Belinda Ruzvidzo

Belinda Ruzvidzo, ’n LLM-gegradueerde van die NWU.

Submitted on Tue, 05/04/2021 - 15:57