Middelengels wakker die verbeelding van topgegradeerde navorser aan

Prof David Scott-Macnab, met sy B2-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS), is die hoogste gegradeerde navorser wat tans in die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) werksaam is.

Om ’n B2-gradering te ontvang, moes ’n akademikus ’n beduidende korpus navorsing in hoogaangeskrewe, hoë-impak- internasionale vaktydskrifte, boeke en hoofstukke in boeke gepubliseer het.   

Prof Scott-Macnab, wat in Middelengelse navorsing spesialiseer, sê hy het sedert 2006 drie keer agtereenvolgens ’n B2-gradering ontvang, waarvan die jongste aan die begin van 2021 was.  

“Dit is ’n groot eer om ’n B-gradering te ontvang, veral aangesien ’n aantal internasionale vakkundiges hulle opinies oor my werk moes gee. Dit is geweldig vervullend – maar stem my ook nederig – om ’n amptelike brief te kry wat sê dat die hersieners deurgaans aan die uitstekende gehalte van my tekstuele en leksikografiese werk erkenning gee,” sê hy.

Vir jong navorsers wat na hom opsien, sê prof Scott-Macnab dat die noodsaaklikste bestanddeel om ’n baie goeie vakkundige te word, is om ’n onderwerp te hê wat jou verbeelding werklik aangryp en wat jou aanspoor om met entoesiasme by jou lessenaar te gaan sit.  

“Die meeste hoogaangeskrewe internasionale vaktydskrifte het ’n afkeuringskoers van meer as 90%. Dit is glad nie maklik om ’n vakkundige produk vir hierdie vaktydskrifte te lewer nie, maar met toewyding, harde werk, middernagtelike studie en die maak van ’n paar persoonlike opofferings, is dit moontlik.”

Manuskripte regoor die wêreld

Prof Scott-Macnab het vroeër hierdie jaar opdrag ontvang om ’n groot projek vir Middle English Texts (MET) te onderneem. MET is die naam van ’n gesogte reeks wat in 1975 begin is om voorheen-onbekende gedigte en ander letterkundige tekste, religieuse tekste, wetenskap, medisyne, en alchemie van die 1300’s tot die 1500’s te publiseer.  

Die redakteurs van die reeks is by die Universiteit van Wallis, St Andrews en München gebaseer, en die volumes word deur Heidelberg University Press gepubliseer.  

Prof D Scott-Macnab werk tans aan ’n ten volle gekollasioneerde uitgawe van ’n teks bekend as The Master of Game, c. 1413, wat in 27 manuskripte voorkom wat regoor die wêreld versprei is.  

“Ek het reeds begin om manuskripte, wat meer as ’n eeu lank nie gesien of ontleed is nie, te transkribeer.  Een manuskrip was vir meer as 200 jaar in ’n reeks privaat versamelings, en is nog nooit deur vakkundiges van Middelengels gesien nie.  Nog ’n manuskrip was tot onlangs in die privaat biblioteek van koningin Elizabeth se neef, prins Richard die Hertog van Gloucester. Hy het my vriendelik na Kensington Paleis genooi waar ek daaraan kon werk.”

Onder normale omstandighede sou prof Scott-Macnab na biblioteke en argiewe moes reis om aan die manuskripte self te werk, maar nou moet hy as gevolg van die inperkingsmaatreëls digitale foto’s aankoop.

Met materiaal soos hierdie vind ’n mens altyd nuwe data, sê hy. He is in deurlopende kontak met die uitgewers van die Middle English Dictionary en die Oxford English Dictionary om hulle verwysingswerke met nuwe inligting by te werk.

Prof Scott-Macnab sê hy hoop om sy huidige navorsing teen die einde van 2023 te voltooi. Hy voeg by dat hy baie gelukkig is om by die NWU geaffilieer te wees, en hy is dankbaar vir al die ondersteuning wat hy van die universiteit ontvang het om sy navorsingsloopbaan te bevorder.

 

Prof David Scott McNab

Prof David Scott-Macnab.

Submitted on Tue, 08/10/2021 - 11:23