Meerjarige grasse is die antwoord vir die herstel van veld

In ’n waterskaarsland soos Suid-Afrika met toenemende eise vir weiding, kan gekweekte meerjarige grasse die antwoord wees op die bewaring van die veld en die verskaffing van voeding vir diere. 

“Droogtes, min reën en oorbeweiding het groot degradasie van die veld veroorsaak, en dus is die herstel van die veld ’n prioriteit vir produsente en vir die diere wat vir oorlewing van die gras afhanklik is,” sê Ntokozo Msiza, ’n PhD-kandidaat in dierewetenskap aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Haar MSc-navorsingsonderwerp was “Utilising agronomic and morphological attributes, and nutritive value in ranking some selected grass species for veld restoration”.

Ntokozo sê die navorsing het gefokus op aangeplante weivelde en die kweek van meerjarige grasspesies om gedegradeerde weivelde te herstel.

“Die vestiging van aanvullende meerjarige grasspesies kan die ideale manier wees om die bestaande probleme van velddegradasie en die onvoldoende voedingshoeveelheid en  gehalte van weiding te hanteer,” sê sy.

Die eksperiment is met ’n kweekhuiseksperiment by die Molelwane Universiteitsplaas uitgevoer om meerjarige grasse en hulle groeistadiums te evalueer, hulle agronomiese en morfologiese eienskappe, chemiese samestelling, chemiese beramings en die in vitro droë materiaal (DM) se degradeerbaarheid vir veldherstel te voorspel. 

“Weivelde in die meeste droë en halfdroë areas is in wese ’n winsgewende hulpbron, aangesien hulle die dubbele doel dien om herkouers te voed, terwyl hulle die gedegradeerde weivelde herstel en die gesondheidstoestand van die grasse in stand hou,” sê Ntokozo.

Bevindings van die studie het uiteenlopende prestasie getoon, met ses variëteite wat ten opsigte van die meeste parameters wat gebruik is, boaan die lys was. Dit was Anthephora pubescens, Cenchrus ciliaris, Chloris gayana, Digitaria eriantha, Eragrostis curvula en Panicum maximum.

Die grasse wat geïdentifiseer is, kan nuttig wees in halfdroë streke, aangesien hulle die potensiaal het om vinnig te vestig, goed as hulpbron te kompeteer, kan bydra om die veld te herstel, en ’n bron van voer is.

“Die studie het oor die algemeen getoon dat met ’n proteïenaanvulling, die produktiwiteit van diere wat aan hierdie grasse blootgestel word, verbeter kan word.”

Ntokozo sê ook dat hoewel hierdie grasse goed is vir die veld en die diere, weidingsbestuursbeginsels nodig is om verdere gronddegradasie te vermy.  Die groter impak sal ook wees dat klein- en opkomende produsente hierdie kennis moet gebruik om oplossings vir volhoubare boerdery en voedselsekerheid te verkry, terwyl daar vir ons weivelde gesorg word.

Ntokozo

Ntokozo Msiza se studie fokus op die belangrikheid van veldherstel.

 

Submitted on Tue, 08/10/2021 - 11:07