Maatskaplike innoveerders kan nou digitale storievertelling gebruik om hulle oplossings te deel

Danksy die bekendstelling van die Digitale Storievertellingspilpunt van die Noordwes-Universiteit (NWU), het maatskaplike innoveerders nou ’n spliternuwe platform waar hulle oplossings vir hulle gemeenskappe se uitdagings kan deel.

Befondsing wat van die Europese Unie se program Erasmus+ (https://erasmus-plus.ec.europa.eu/opportunities-under-erasmus)  ontvang is, het die bekendstelling van die spilpunt moontlik gemaak, sê Bibi Bouwman, NWU se direkteur van Volhoubaarheid en Impak.

Die spilpunt, wat deel is van die internasionale Common Good First-inisiatief, is reeds in 2019 voltooi, maar kon as gevolg van Covid-19-beperkings en finansiële uitdagings tot 25 Februarie 2022 nie amptelik bekendgestel word nie.

Die digitale spilpunt – wat ook in ’n mobiele laboratorium omskep en na gemeenskappe geneem kan word – het tans vier rekenaars, 14 tablette, ’n kamera en ’n mikrofoon. Daar is ook fasiliteerders wat met die teksredigering help en mense help om video’s op te laai.

Hoewel die platform hoofsaaklik vir maatskaplike innoveerders ontwerp is, is die vernaamste doelwitte daarvan om digitale geletterdheid en die idee van storievertelling in alle soorte gemeenskappe te stimuleer. “Dit fokus daarop om mense aan te moedig wat oplossings vir hulle eie uitdagings gevind het om hulle stories te deel. Dit handel oor die deel van enige soort maatskaplike innovasie met die wêreld, veral tussen universiteite en studente,” sê Bibi.

“Wanneer mense gewillig is om hulle stories te deel, gee ons aan hulle ’n templaat om hulle eie profiele te skep en wys hulle hoe die proses werk. Al wat hulle nodig het, is ’n selfoon wat aan die internet gekoppel kan word.”

Opleiding in videoproduksie

’n Digitale storievertellingwerkswinkel en opleiding in videoproduksie, waar die deelnemers leer hoe om hulle stories deur video’s te vertel, is aangebied om met die bekendstelling saam te val. Vir die werkswinkel het die deelnemers in storiekringe gesit om hulle stories te deel.

“Mense voel in ’n storiekring gemaklik genoeg om hulle stories te deel, wat soms persoonlik en roerend kan wees,” sê Bibi.

Yaseen Rassulmia van die NWU se Eenheid vir Oop Afstandsleer het die werkswinkel bygewoon en was deel van die “Hope Squad”-storiekring.

Hy sê die digitale platforms sal die manier verander waarop stories vertel word. “Ons wil graag namens die afdeling van die Hope Squad ons dankbaarheid uitspreek vir al die kennis en ervaring wat ons tydens hierdie werkswinkel opgedoen het. Dit het ’n passie by ons almal ontlok om ambassadeurs van hoop en welwillendheid te word in alles wat ons doen terwyl ons die vaandel van die NWU omhoog hou.”

Om Yassen se digitale storie te sien, besoek: https://youtu.be/mcasllImUYs.

Meer oor Common Good First

Common Good First is ’n digitale netwerk wat ten doel het om gemeenskapsgedrewe projekte met ’n maatskaplike impak te identifiseer, en dit aan universiteite voor te stel en met hulle te skakel, nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal, vir doeleindes van navorsing, onderrig en leer, en studentebetrokkenheid.    

Die NWU is een van ses Suid-Afrikaanse universiteite wat maatskaplike innovasieprojekte met mekaar wil verbind.

Die ander plaaslike universiteite is die Nelson Mandela Universiteit, Rhodes Universiteit, die Universiteit van Johannesburg, die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Wes-Kaapland.

Hulle skakel met ses Europese instellings as deel van ’n konsortium wat die Glasgow Caledonian Universiteit, die Roskilde Universiteit, Social Innovation Exchange, die Universiteit van Alicante, die Universiteit van Reykjavik en die Universiteit van Suidoos Noorweë insluit.

Vir meer inligting besoek https://commongoodfirst.com/.

....

Binne die NWU se Digitale Storievertelling- maatskaplike innovasiespilpunt.

....

Bibi Bouwman, NWU se direkteur van Volhoubaarheid en Impak sê tegnologie wat tablette en skootrekenaars insluit, word gebruik om digitale stories te skep.

....

Die NWU se gelukbringer, Eagi, het tydens die amptelike bekendstelling van die spilpunt by die fasiliteerders en deelnemers aangesluit.

Submitted on Tue, 03/08/2022 - 09:00