Ma en se seun deel hul eerste jaar op universiteit saam

 

Met ’n ouderdomsgaping van 25 jaar tussen hulle is ma en seun Susan en Janu Fouche albei aanvaar om hulle eerste jaar by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) te doen.

Die drie-en-veertigjarige Susan studeer vir ’n kwalifikasie in maatskaplike werk, terwyl haar 18-jarige seun ’n graad in rekenaar- en elektroniese ingenieurswese gaan volg.

Susan sê dat sy nie beplan het om dieselfde tyd as Janu vir haar graad te begin studeer nie – dit het alles toevallig gebeur. “Ek dink al die afgelope paar jaar daaraan om my kwalifikasie in maatskaplike werk te kry, maar het die hele tyd gehuiwer omdat my kinders nog jonk was en ek ’n aantal ander verantwoordelikhede gehad het. My werklas het verlede jaar afgeneem en ek het besef dat my kinders meer onafhanklik is, en toe besluit dat ek gaan registreer om te studeer,” sê sy.

Toe Janu aanvanklik uitgevind het dat hulle saam gaan studeer, het hy gedink dat sy ma ’n grap maak, maar hy het gou van die idee begin hou.

“Janu sien daarna uit om nuwe vriende te maak en meer oor programmering en fisika te leer. Aan die ander kant sien ek uit om meer oor sielkunde te leer en ek hoop dat dit my sal help om my bediening uit te brei.”

Susan is die stigter van Vessels of Mercy, ’n niewinsgewende organisasie wat met kinders werk wat deur die hof weggeneem is van ouers wat hulle verwaarloos of mishandel.  Sy is ook ’n pleegouer en het die afgelope 13 jaar iets oor al die prosesse van pleegsorg geleer.   “Ek wil graag met hierdie kwalifikasie uit ’n maatskaplikewerkperspektief verstaan hoe hierdie prosesse werk,” sê sy.

Janu sê hy wil in die volgende vyf jaar sy vierjaargraad voltooi en by ’n rekenaarprogrammeringsorganisasie werk. Hy voeg by dat hy later in sy lewe sy eie besigheid wil bedryf. Susan sê dat sy in die toekoms daarna sal kyk om ’n nagraadse kwalifikasie te voltooi en hoop om nog twee tuistes oop te maak waar kinders permanent geplaas kan word.

........

Janu en Susan Fouche

Submitted on Wed, 03/31/2021 - 10:46