Liezel voeg nuwe pyl by haar atletiek-koker

Daar was min twyfel dat sy dit sou kon doen. Skrap dit – minder as min, maar wel meer as geen. Liezel Gouws sê sy sou miskien nie tydens die verspringgeleentheid by die onlangse Wêreld Para-Atletiekkampioenskap in Parys, Frankryk op die podium geëindig het nie, maar ʼn topposisie was haar gewis beskore.

“Ek het onlangs met verspring begin, maar kon ongelukkig nie in Parys daaraan deelneem nie. Ek glo wel ek sou onder die topvier kon eindig,” vertel dié 25-jarige student van die Noordwes-Universiteit.

Sy het wel uitgeblink in die items waaraan sy deelgeneem het, met ’n vyfde posisie in die 400 m (T37-kategorie) en ʼn sewende posisie tydens die finaal van die 100 m, ook in die T37-kategorie.

“Ek het tydens al twee items my beste tye vir die seisoen gehardloop.”

Dit is Dinsdagoggend 17 Julie en sy skarrel nog rond daar doer in die buiteland.

“Ons vlieg vandag terug, dinge is ’n bietjie rof op die oomblik,” sê sy, maar praat vol vreugde oor haar ervaring van 8 tot 17 Julie in die wêreld se romantiese hoofstad.

“Oor die algemeen was dit baie lekker. Ek het hierdie Wêreldkampioenskap aangepak om rêrig net elke oomblik in te neem en my vermoë om te kan hardloop, uit te leef. Om die beste van elke geleentheid te maak. Om dit vir die Here te doen en dit saam met Hom te doen. My ander doelwit was om die ervaring te geniet, en dit het ek reggekry.”

Nou is sy terug in die land en haar visier is ingestel om in Augustus 2024 terug te keer Parys toe, hierdie keer met ʼn nuwe, vlymskerp pyl in haar atletiekkoker:

“Ek is baie opgewonde oor hierdie nuwe verspring-uitdaging wat wag en ek sien daarna uit om vir volgende jaar se Paralimpiese Spele te begin voorberei.”

Submitted on Mon, 07/24/2023 - 10:33