Leef sy droom uit doer ver in Duitsland

Al ons drome kan waar word as ons die moed het om dit na te jaag. Dit is waar vir Mattheus van Niekerk,, ’n alumnus van die NWU se Fakulteit Ingenieurswese.

Mattheus het van 2009 tot 2012 aan die NWU se Potchefstroomkampus vir sy BIng in Meganiese Ingenieurswese gestudeer, en toe van 2013 tot 2014 sy studies voortgesit deur sy MIng-graad in Meganiese Ingenieurswese deur die Sentrum vir Navorsing en Voortgesette Ingenieursontwikkeling (CRCED) in Pretoria te voltooi.

 “Ek werk tans as meganiese ontwerpingenieur vir Tesla in Berlyn, Duitsland. Ek is deel van die span wat besig is om die nuwe Gigafactory vir Tesla in Berlyn te bou,” sê Mattheus. Sy pligte sluit ontwerp in en die bestuur van ontwerpkonsultante vir alle meganiese stelsels wat as deel van die fabriek se bedrywighede vereis word.

Sy grootste prestasies, sê hy, was om sy BIng- en MIng-grade te verwerf en om sy doelwitte te kan bereik deur vir sy droommaatskappy, Tesla te werk.

Om hierdie doelwitte te bereik, het nie maklik gekom nie, aangesien hy moes leer om sy tyd tussen studie/werk en sy persoonlike lewe te bestuur en seker te maak dat hy nooit opgee nie, ongeag hoe moeilik die taak gelyk het. Wat hom baie gehelp het, was dat hy vir homself doelwitte gestel het en seker gemaak het dat hy dit bereik.

Hy het van jongs af altyd daarin belanggestel om te weet hoe dinge werk en waarom dit gewerk het soos dit werk. “Ingenieurswese was vir my ’n logiese keuse. Ek het aanvanklik beplan om chemiese ingenieurswese te studeer, maar het na meganiese ingenieurswese oorgeskakel kort voordat ek my aansoek ingedien het omdat ek gevind het dat meganiese stelsels interessanter was. Ek was nog nooit spyt dat ek hierdie verandering gemaak het nie,” voeg Van Niekerk by.

Sy leuse in die lewe is: “As jy iets in die lewe wil hê, werk daarvoor. Niks in die lewe is verniet nie, en as dinge vir jou maklik kom, stel jy nie genoeg uitdagings vir jouself nie. Doen altyd jou bes en moenie bang wees om enige uitdaging aan te pak nie. Laat jou passie wees om ’n verskil te maak en jou stempel af te druk, nie om geld te maak nie.”

........

Mattheus van Niekerk

Submitted on Mon, 02/01/2021 - 12:59