Kweek suksesvolle opkomende boere deur vennootskappe

Wat het opkomende boere nodig om suksesvol te wees? Dit is die vraag wat dr Faan Pelser, ’n akademikus van die Noordwes-Universiteit (NWU), en prof Theuns Pelser van die Universiteit van KwaZulu-Natal se Nagraadse Skool vir Besigheid en Leierskap in hulle jongste navorsingsreferaat wil probeer beantwoord.

Die referaat is getiteld “The factors that contribute to the growth of emerging farmers in the agricultural sector, North West Province, South Africa”.

Volgens dr Pelser belê die Suid-Afrikaanse Departement van Landbou groot bedrae in groei in entrepreneurskap op landbougebied. Die Omvattende Landbou-ondersteuningsprogram (OLOP) is in 2004 geskep om opkomende boere met nieterugbetaalbare skenkings te help. Deur kapitaal te verskaf, asook ondersteuning nadat hulle gevestig is, is die doel van die fonds dat opkomende boere gehelp kan word om doeltreffende landboubesighede te vestig.

“Die meeste van die fondse wat deur OLOP in Noordwes bestee is, is deur die ouditeur-generaal tot vrugtelose en verkwistende uitgawes verklaar, aangesien die skenkings nie waarde toegevoeg het nie en die geselekteerde opkomende boere jaar na jaar misluk het,” sê hy.

Nadat onderhoude met die vernaamste landboubetrokkenes gevoer is, het dr Pelser genoem dat opkomende boere meer vaardighede in landbou en bestuur nodig het, wat bedryfs-, finansiële en bemarkingsbestuur insluit, sodat hulle selfonderhoudende en onafhanklike kommersiële boere kan word.

Om dit te laat gebeur, stel hy voor die regering moet probeer om staat/privaat-vennootskappe met privaat instellings/agribesighede te vorm wat by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-outoriteit geregistreer is. Hierdie vennootskappe moet indiensopleiding kan bied om die volhoubare groei van opkomende boere in die landbou te verseker.

Volgens dr Pelser moet die rolle en verantwoordelikhede van hierdie instellings/agribesighede verband hou met direkte en indirekte bemarking, die verskaffing van mentorskap, en hulp met opleidingsinisiatiewe soos leer-deur-te-doen-konsepte.
 
Dr Faan Pelser
Dr Faan Pelser.

Submitted on Mon, 10/25/2021 - 09:57