Kunstenaar se indrukke van Covid-19 en aardverwarming wen twee internasionale pryse

Die werklike waarde van kuns strek baie verder as die geldelike waarde daarvan. Die skoonheid daarvan kan ons stomslaan en die betekenis kan ons harte, gedagtes en siele aanraak vir geslagte nadat dit geskep is.  ’n NWU-alumnus se kunswerke het op meesterlike wyse sy “filmstrook”-indrukke van die staat van inperking, die Covid-19-pandemie en aardverwarming vasgevang, en aan hom die eerste prys in twee vooraanstaande internasionale kompetisies besorg.

Christiaan Diedericks, ’n bekroonde professionele kunstenaar wat bekend is vir sy konseptuele drukkunstegniek en tradisionele sowel as eksperimentele kuns, het so pas twee groot internasionale kunskompetisies in Australië en Italië gewen.

Diedericks is in Junie 2021 by die vyfde tweejaarlikse InkFest van InkMasters in Cairns, Australië as die algehele wenner van die Doctor Raya Mayo-toekenning, met ’n prysgeld van 8 000 Australiese dollar, aangewys.

Christiaan het net ’n week gelede die Mudi in Arte 2021 eerste prys van 1 500 euro by die Museo Diocesane San Matteo in Salerno in Italië ontvang. Christiaan het ook die tweede prys in hierdie kompetisie ontvang. Sy weninskrywings sal in die permanente versameling van hierdie museum opgeneem en onder dié van die 16de-eeuse kunsmeesters geplaas word.  

Let us prey

Christiaan se wenreeks werke, getiteld Let us prey I – V, is net ná die begin van die eerste inperking geskep. Die titel van hierdie werke is ’n woordspeling op “pray” en “prey”, en die kunstenaar plaas die plundering van staatskoffers en die feit dat die regering nie op daardie stadium vir die pandemie gereed was nie, onder ’n kritiese soeklig.

Hy sê die werk kyk ook na ander aktuele sake soos die ontkenning van aardverwarming, die impak van fopnuus, mag en die gevolglike vrees wat deur die pandemie veroorsaak word. “Ek probeer op talle maniere om die geskiedenis in my werk te ‘herskryf’ en kyk na die dominante gevoel van selfbewussyn wat die meeste Westerse kunspraktyke beïnvloed.”

Christiaan is geen onbekende as dit by toekennings kom nie. Hy was ook die 2020-wenner van die groot prys vir eksperimentele drukkuns by die 8ste internasionale Miniprint in Kazanlak, Bulgarye, waar hy ook sy werk by die groot openingsgeleentheid kon uitstal.

Sy resumé sluit ’n lang lys eerbetonings in, solo- en groepuitstallings in Suid-Afrika, en 29 termyne as inwonende kunstenaar, waarvan die jongste in 2018 by die London Print Studio in die Verenigde Koninkryk was. Hy is vir Oktober en November van hierdie jaar uitgenooi om vir die tiende keer as inwonende kunstenaar by die Cité Internationale des Arts in Parys te woon en te werk.

Hy dink na oor sy studentedae

Christiaan onthou sy alma mater met vreugde. Hy het in 1983 begin om aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys vir ’n BSc-graad te studeer. Hy het sy graad in 1986 voltooi, met Menslike Fisiologie en Menslike Bewegingskunde as hoofvakke.

Aangesien Christiaan ook op daardie tydstip ’n nasionale atleet was, was sy aanvanklike voorneme om in sportmedisyne te werk, maar sy liefde vir kuns het hom genoop om ’n voltydse professionele kunstenaar te word.

Christiaan sê dat hy veral sy kunsstudies in sy studentedae in Potchefstroom geniet het, waar sy werk nou in die kunsversamelings van die NWU en die Potchefstroom Museum opgeneem is.   

“Dit was ’n baie spesiale tyd in my lewe en ek sal altyd met vreugdevolle herinneringe daarop terugkyk.”

Nadat hy sy BA(SK)-graad (cum laude) aan die NWU verwerf het, het Christiaan sy meestersgraad in Skone Kunste in 2000 met onderskeiding vir die praktiese komponent aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

Om Christiaan se kunswerke te sien, besoek die galery wat hom verteenwoordig by https://themelrosegallery.com/artists/39-christiaan-diedericks/overview/ of volg hom op sosiale media by https://www.facebook.com/christiaandiedericksartist, https://www.instagram.com/christiaandiedericksfineart, of @christiaandiedericksfineart. 

*Christiaan het op 17 Julie die nuus gedeel dat hy nog ’n toekenning gewen het en by nog ’n internasionale uitstalling ingesluit is. Sy miniatuuretswerk “Inconspicuous Contusion” was een van die nege wenners van die IOMAC tweede jaarlikse internasionale aanlyn miniatuurkunskompetisie en ‑uitstalling in 2021, Insight, in Bangladesj. Sy werk is ook vir die 2021 India International Spiritual Art Festival gekies.

........

Christiaan Diedericks sê in sy kunstenaarsverklaring dat hy graag eietydse kwessies soos Difference as tydloos wil voorstel deur sy woordeskat van beelde en temas in ’n organiese vloei van drome, geskiedenis, nuus, kommersiële puin, hiperrealiteit en die onuitgesproke gevoelens en kragte van biologiese aard of begeerte te plaas. Photo: Antonia Steyn.

........

Christiaan Diedericks se weninskrywing, Let us Prey III (Against the winged dunes), vir die Doctor Raya Mayo-toekenning Award is ’n droëpunt-monotipe- en lasergravure op etspapier. Dit het vir Melanie Grobler, Suid-Afrikaanse digter en vriendin van Christiaan, aangespoor om ’n gedig daaroor te skryf.

........

Christiaan se ateljee is ’n genot vir die oë met verskeie oorspronklike kunswerke wat daar uitgestal word.

Submitted on Mon, 07/19/2021 - 09:10