Kaptein Chederick wil weer sy ou vorm terugkry

Chederick van Wyk is in die jaar van kampioene gebore, en dit is wat hy geword het. Die wêreld het vir die eerste keer op 8 Februarie 1995 met hierdie toekomstige naelloper kennis gemaak, ’n paar maande voor die Springbokke die Web Ellis-trofee op ’n geskiedkundige middag op Ellispark omhoog gehou het. Die voorsienigheid het ook ’n toekomsplan vir hierdie seuntjie van Prieska gehad.

Chederick was tussen 2018 en 2019 op die toppunt van sy prestasie. Hy het vanaf 28 April 2018 tot 11 Julie 2019 sy persoonlike beste tye in die 100 m (10,18 s), 200 m (20,44 s) en 4 x 200 m (1:20,42) gehardloop. Die eerste een het in Sasolburg plaasgevind, die tweede in Yokohama en die derde in Napels.

Chederick is ’n gewilde figuur en is gekies as die kaptein van die Noordwes-Universiteit se atletiekgroep, wat in Potchefstroom gebaseer is. “Ek is in Oktober 2019 as die kaptein van die groep gekies en ons het sedertdien nog nie weer ’n verkiesing gehad nie,” verduidelik hy.

Soos so baie ander dinge het die Covid-19-pandemie sy voorbereidings erg in die wiele gery, en ’n hardnekkige enkelbesering het bygedra tot die feit dat hy nog nie weer sy vorm van ongeveer twee jaar gelede kon bereik nie.

“Ná Covid-19 en die inperking wil ek net weer hardloop. Ek wil net deur hierdie jaar kom, maar ek het groot planne vir 2022,” sê hy.

Hy wil weer die toon aangee.

Wanneer hy nie oefen of vir sy graad in Opvoedkunde aan die NWU studeer nie, geniet Chederick niks meer as om tyd saam met sy meisie van agt jaar, Jacqueen Adams, sy familie en sy vriende deur te bring nie. “My vriende is nie atlete nie, dus is dit soms lekker om van die sport weg te breek en net te ontspan.”

Sy enkelbesering het tydens die onlangse Suid-Afrikaanse kampioenskap weer opgevlam en hy moes hom aan die kompetisie onttrek. Hy het egter vrede daarmee gemaak, aangesien hy steeds sê dat 2021 daar is om terug te kom tot waar hy weet hy moet wees: in die voorste plek op die baan, die leier van die trop.

........

Chederick van Wyk

Submitted on Fri, 04/23/2021 - 10:05