Innovation Hub gee erkenning aan NWU-presteerders

Twee tegnologieprojekte het onlangs erkenning ontvang tydens hierdie jaar se Innovation Hub GAP-toekennings, wat op 10 Desember 2020 gehou is.

Die Innovation Hub, die innovasie-agentskap van Gauteng, is ’n volfiliaal van die Gautengse Groei- en Ontwikkelingsagentskap. Dit is deur die Gautengse provinsiale regering deur middel van sy Departement van Ekonomiese Ontwikkeling gestig om ekonomiese ontwikkeling en mededingendheid in Gauteng te bevorder deur innovasie en entrepreneurskap aan te moedig.

Die GAP Innovation-kompetisie is op soek na innoveerders, navorsers en entrepreneurs wat aan nuwe tegnologieë werk wat die effektiwiteit van die dienslewering van die regering sal verbeter, die mededingendheid van die plaaslike ekonomie sal verhoog, en die lewensgehalte van gewone burgers sal verbeter. Kategorieë is inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT), die mediese veld, biowetenskappe en groen ekonomie.

Dr Hanli de Beer, ’n voedselwetenskaplike in verbruikerswetenskappe by die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, en mev Doret Kruger, ’n senior kommersialiseringspesialis van die Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuningskantoor, het die derde plek verower vir hulle inskrywing in die innovasiekategorie vir biowetenskappe.

Hulle het van ekstrusietegnologie gebruik gemaak om ’n hoëproteïenpasta uit grondboontjies en ander proteïenryke plante te maak.  Hierdie pasta is ’n klaargekookte koolhidraat-proteïen-kombinasie, LeguPro, met ’n hoër voedingswaarde vergeleke met kommersiële pasta soos spaghetti, macaroni en 2 Minute Noodles.

Dit is bekostigbaar en vereis ’n korter voorbereidingstyd. Hierdie nuwe pasta is ’n hoëproteïen-, hoëkoolhidraat-, glutenvrye voedselproduk wat vir lae-inkomsteverbruikers bekostigbaar is. Dit kitsnoedelopsie bied ’n gesonder hoërproteïen-alternatief vir huidige voedselsoorte en het ’n verbeterde smaak.

In die kategorie vir mediese innovasie het prof Leenta Grobler en dr Henri Marais van die Skool vir Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese die tweede plek verwerf vir hulle ventilatormoniteringstelsel wat vanaf ’n afstand hanteer kan word, en wat hospitale en gesondheidskundiges in staat stel om uiteenlopende groepe hospitaaltoerusting vanaf ’n afstand op ’n enkele paneelbord te moniteer. Daar word verwag dat dit beduidende deurbrake vir toekomstige gesondheidspandemiesituasies sal verskaf.

“Ek het ’n omvattende sake- en ’n beleggersplan voorgelê vir die nuwe ventilatormoniteringsoplossing wat vanaf ’n afstand werk, en wat ek en Henri besig is om te ontwikkel,” sê Leenta.

Hierdie program het intensiewe opleiding en evaluering deur kundiges van die Goizueta-besigheidskool van die Emory Universiteit (in Atlanta, Georgia) ingesluit, asook van ’n paar plaaslike entrepreneurs wat by die Innovation HUB betrokke is.

“Benewens dat ons ’n tweede plek verwerf het, het ons ook R200 000 in saaibefondsing vir Med-E-Hive  ontvang, asook besigheidsondersteuningsdienste wat deur die Innovation HUB verskaf word", sê Leenta.

...

Hannes Malan, Prof Leenta Kruger en Dr Henri Marais het tweede plek verwerf.

....

Prof Leenta ontvang die toekening.

 

 

Submitted on Mon, 12/14/2020 - 08:55