Informele afvalinsamelaars in Suid-Afrika speel ’n sleutelrol in die herwinningswaardeketting, maar kry dikwels geen erkenning nie. Daar moet maniere gevind word om hulle in staat te stel om deel te neem aan besluite oor afvalbestuurspraktyke en gemeenskapsherwinningsprogramme, sê prof Derick Blaauw van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Ekonomie.
Hy is vir die afgelope 10 jaar deel van ’n landswye studie oor informele insamelaars se sosio-ekonomiese dinamiek, kwesbaarheid en bydrae tot herwinning in Suid-Afrika. Die studie behels ’n span interdissiplinêre navorsers van die NWU, die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en die Universiteit van Johannesburg. Prof Rinie Schenck, bekleër van die DWI/NNS/WNNR SARChI-leerstoel in Afval en die Samelewing by UWK, lei die span.
Prof Blaauw, een van die hoofnavorsers van die projek, sê verskeie studies het beraam dat Suid-Afrika tussen 60 000 en 90 000 informele straatafvalinsamelaars, insamelaars op afvalhope, insamelaars in woongebiede en insamelaars met bakkies het.
Hulle is ’n belangrike skakel tussen die munisipale diensketting en die formele privaat sektor-waardeketting in ontwikkelende lande, en verwyder afval doeltreffend vanaf sypaadjies en afvalhope in die herwinningsekonomie.
Volgens prof Blaauw is daar beraam dat afvalinsamelaars 80% tot 90% (per gewig) van náverbruikerspapier en verpakking in Suid-Afrika in 2014 ingesamel het.
“Die jongste beraming, volgens prof Linda Godfrey van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad se 2021-referaat, is dat afvalinsamelaars verantwoordelik is vir die insameling van 51% van alle náverbruikerspapier en verpakking wat in 2017 in Suid-Afrika ingesamel is. Hoewel hierdie skatting laer is, bly hulle steeds die vernaamste herwinners van náverbruikerspapier en verpakking,” sê hy.
Ten spyte van hulle groot bydrae, word informele insamelaars dikwels uitgesluit van besluite oor afvalbestuurspraktyke, asook van die pogings om gemeenskappe by straatherwinningsprogramme betrokke te kry.
“Dit maak dikwels hierdie programme ondoeltreffend,” sê hy. “Informele insamelaars het baie min beheer oor die inkomstepotensiaal uit hierdie aktiwiteit. Hulle kan hulle werksure beheer en probeer om vroeg op die afvalhope of strate te wees, maar op die ou end is hulle bloot prysnemers en kan net iets volgens die gewig van die ingesamelde goed verdien. Die gebruik van winkeltrollies is die een ding wat insamelaars in staat stel om ’n hoër inkomste te verdien.”
Pogings om koöperasies vir insamelaars te stig, was merendeels gedoem, want die meeste koöperasies het misluk,” sê prof Blaauw.
Hulle situasie kan verbeter word as informele afvalinsamelaars ’n sê het in die besluite en bestuurspraktyke oor afvalhope.
“Deelnemende besluitneming is ’n baie beter opsie. Voorts word die rol van terugkoopsentrums as skakel tussen die formele en informele herwinningsektore ook dikwels misken in beleide en aksieplanne wat met herwinning oor die algemeen te doen het.”
Prof Derick Blaauw is een van die hoofnavorsers van die projek oor informele afvalinsamelaars. (Foto: Lucky Mothloki)
Straatafvalinsamelaars neem ingesamelde afval na herwinners om dit te verkoop. (Foto: Lucky Mothloki)
Afvalhoop-insamelaars sorteer afval.