Ikateleng-donateur spandeer die dag op kampus

Die Departement Ontwikkeling en Fondswerwing van die Noordwes-Universiteit het onlangs ’n getroue donateur van die NWU se Ikateleng-projek ontvang om terugvoer te gee oor die uitslae van die leerders en om die moontlikheid van voortgesette steun vir 2022 te bespreek. Volgens Johan Bezuidenhout,  groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK in Lichtenburg, is een van NWK se waardes ’n medeverantwoordelikheid in die werkplek en gemeenskap en die terugploeg in die gemeenskappe waarbinne hulle funksioneer.

“Een van ons fokusareas is opvoeding en daarom is dit ’n voorreg om met die Ikateleng-projek, met ’n trotse geskiedenis en bewese suksesse, geassosieer te word,” het hy gesê.

Johan is ook ’n lojale ondersteuner van die NWU Eagles-rugbyspan en het as alumnus van die NWU die Varsitybekerrugbywedstryd tussen die NWU en die Universiteit van Kaapstad by die Fanie du Toit-sportterrein bygewoon. “Die rugbywedstryd het my laat terugdink aan ʼn paar jaar gelede se eindstryd teen die manne van die Kaap waar hulle in die laaste minute die wedstryd beklink het,” het Johan ná die wedstryd gesê. “Dit was die eerste wedstryd van die 2022-seisoen en daar is nog plek vir verbetering. Dit was ook bemoedigend om weer toeskouers by die wedstryd te kon hê en dit was lekker om te sien hoe die studente dit geniet.”

Vind hier meer uit oor die Ikateleng-projek en hoe om dit te ondersteun: https://www.nwu.ac.za/fundraising/ikateleng

....

Johan Bezuidenhout

Submitted on Mon, 02/21/2022 - 13:06