Gemeenskapsbetrokkenheid neem ’n sentrale plek by die jaarlikse GeeXpo in

Gemeenskapsbetrokkenheid lê die Skool vir Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels by die Noordwes-Universiteit (NWU) na aan die hart, en hulle het onlangs weer die jaarlikse GeeXpo-gebeurtenis georganiseer. 

GeeXpo is ’n tegnologie- en innovasie-uitstalling wat baanbrekernavorsing, produkte en dienste van verskillende bedrywe, insluitende inligtingstegnologie, robotika, ingenieurswese en wetenskap, vertoon.

Hierdie gesamentlike poging het vennote soos die Skool vir Wiskundige en Statistiese Wetenskappe en die Sentrum vir Bedryfswiskunde en Informatika ingesluit – elkeen ’n integrale deel van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe. 

Die geleentheid het entrepreneurs, navorsers, leerders van verskeie hoërskole, en enigeen wat nuuskierig is oor die jongste ontwikkelings op die gebied van wiskunde, statistiek, wetenskap en tegnologie, gelok.

Die gebeurtenis het op 14 Oktober 2023 by die Studentesentrum en ander toegewyde lokale op die NWU se Vanderbijlparkkampus plaasgevind.

Die hart van GeeXpo was die kompetisie vir die praktiese assesseringstaak (PAT) vir graad 10- tot 12-leerders wat hulle PAT-projekte uitgestal en om pryse meegeding het. Dit was ook ’n geleentheid vir jong en aspirerende programmeerders om hulle vaardighede en kreatiwiteit te toon en erkenning vir hulle harde werk te ontvang.

Die geleentheid het ook ’n Wiskunde-olimpiade – geborg deur Absa – ingesluit. Hierdie gesogte en uitdagende kompetisie fokus op die toetsing van die wiskundige probleemoplossingsvaardighede van leerders.  Die doel van die olimpiade is om belangstelling in wiskunde te stimuleer en te bevorder, kritiese denke aan te moedig en die ontwikkeling van kreatiewe probleemoplossingstegnieke te kweek.

Mense wat die geleentheid bygewoon het, het ook ’n wye verskeidenheid opwindende uitstallings, praatjies en werkswinkels ervaar. Leerders het die geleentheid gehad om netwerke met bedryfskundiges en individue met eenderse belangstellings te vorm en om die jongste tendense en vorderings in tegnologie en innovasie te ondersoek.

GeeXpo het ook innoverende honneursgraad-navorsingsprojekaanbiedings vertoon, waar IT-studente hulle navorsingsplakkate uitgestal of hulle navorsingsartefakte gedemonstreer het. Die UiPath Hackathon, geborg deur CVTS, Dimension Data en UiPath, het derdejaar-IT-studente uitgedaag om hul kundigheid met innoverende robotiese prosesoutomatiseringsoplossings te toon.

Mede-organiseerder Chuku Taole sê die gebeurtenis was ʼn groot sukses, en bywoners van die GeeXpo het hul tevredenheid met die wye verskeidenheid aktiwiteite uitgespreek.

“GeeXpo het as platform gedien vir leerders en studente om hulle vaardighede en kreatiwiteit te toon, terwyl dit ook hulle belangstelling in tegnologie en innovasie bevorder het. Die gebeurtenis het ook ʼn gulde geleentheid gebied om innovasie te bevorder en om die volgende geslag probleemoplossers te inspireer,” sê Chuku.

Mede-organiseerder Luke Coetzee deel ook sy perspektief. “Ná ’n vier jaar lange onderbreking as gevolg van die Covid-19-pandemie, was ons geweldig opgewonde om hierdie jaar se geleentheid soos ’n vars bries te loods.  Dit was wonderlik om die ongelooflike projekte en vaardighede te sien wat deur die leerders en studente gedemonstreer is, en ek kan nie wag vir ’n groter en beter GeeXpo volgende jaar nie.  Hou die nuus dop!”

Soos die GeeXpo-span vooruit kyk, is hulle vasberade om ’n gees van innovasie, betrokkenheid en bemagtiging in die tegnologie-, wiskunde- en wetenskapgemeenskappe te koester. Dit sal die weg baan vir ’n belowende toekoms waar aspirerende individue en bedryfskundiges onder die GeeXpo-vaandel byeenkom.

Dr Japie Greeff, Chuku Taole, Luke Coetzee en die Geekulcha-studentevereniging van die Vanderbijlparkkampus.

Leerders van verskillende skole het die geleentheid gehad om ’n wye verskeidenheid opwindende uitstallings, praatjies en werkswinkels te ervaar.

GeeXpo organiseerders Luke Coetzee en Chuku Taole, saam met die twee onderwysers wat van die leerders vergesel het.

Verteenwoordigers van Dimensions Data, UiPath en CVTS het derdejaar-IT-studente uitgedaag om hul kundigheid te toon.

Submitted on Wed, 11/15/2023 - 10:19