Geen verhoging in BTW is die regte besluit

Die besluit deur die Nasionale Tesourie om nie die belasting op toegevoegde waarde (BTW) op 1 Mei te verhoog nie, is onder die huidige omstandighede die regte een.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê ná ’n intensiewe debat is ’n verhoging in BTW uiteindelik as onnodig beskou, en het ook ekonomies en polities geen breë ondersteuning ontvang nie.

“’n Onveranderde BTW-koers bring welkome verligting en sekerheid vir besighede en verbruikers, en wat dit betref, is dit iets wat vertroue inboesem. Dit beteken egter nie dat Suid-Afrika fiskaal gesproke buite gevaar is nie. Toekomstige risiko’s ten opsigte van fiskale beleid is steeds daar.”

Volgens prof Parsons hang die suksesvolle bestuur van hierdie risiko’s nou daarvan af dat daar ’n geloofwaardige fiskale strategie om die boeke te balanseer in die derde begroting vervat word wat binnekort deur die Nasionale Tesourie aan die Parlement voorgelê gaan word. “Die voordele van die uitgestelde Begroting en die kontroversie wat daarmee saamgaan, is nietemin drieledig. Beter opsies wat beskikbaar is om die Begroting te balanseer – wat besteding sowel as belasting betref – is geïdentifiseer, en toekomstige Begrotings gaan aan ’n meer intensiewe konsultasieproses onderwerp word. Die dringende behoefte aan baie groter ekonomiese groei is ook weer eens beklemtoon.”

Prof Parsons wys daarop dat dit nou selfs nog meer nodig is – veral in die lig van huidige wêreldwye ontwikkelings – dat Suid-Afrika baie vinnig belangrike strukturele hervormings om die ekonomie uit te brei, moet begin versnel. “Fiskale volhoubaarheid moet versterk word deur sterker ekonomiese groei wat die belastingbasis vergroot en so belastinginkomste verhoog,” sê hy.

Submitted on Thu, 04/24/2025 - 16:01