Duwweltjiepad ontsenu nie vir Jane Fransman nie

Met elke trappie wat Tebogo tot op die verhoog klim, met elke tree wat hy oor die verhoog gee, het sy ma, Jane Fransman, se hart vinniger begin klop. Doef-doef, doef-doef. Trotse slae. Toe hy tot stilstand kom en dáár, in die ouditorium op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, sy onderwysgraad ontvang, wou sy uit haar vel bars. Die trane het geloop. “Ek was baie bly. Ek het nooit gedink ek sou die dag sien dat hy op die verhoog gaan staan en sy graad kry nie.” Want die lewe het haar al meer as een keer van koers af probeer gooi.

Jane is 43 jaar gelede in Boskop gebore en het in Klipdrift, net buite Potchefstroom, grootgeword. Sy was vervreem van haar pa, wat by Transnet gewerk het, en haar ma was sonder ʼn heenkome. Die gevolg was dat sy by haar ouma, Feikie Fransman, gebly het. “Dit was ʼn kwaai ouma daai.”

In graad 10 het sy die skool verlaat en uiteindelik in 2011 aangesluit by die diensverskaffer wat skoonmaakdienste aan die NWU gelewer het. In 2015 het ʼn nuwe kontrakteur oorgeneem en Jane het haar werksaamhede by hulle voortgesit.

Intussen het Tebogo sy skoolloopbaan met sukses by Pudulogo Primary en Basobi Secondary in Gauteng voortgesit. “Hy het altyd baie goeie punte gekry,” vertel Jane.

Drie jaar gelede het haar lewensmaat en Tebogo se pa, Daniël Hoffman, ʼn verlammende beroerte gehad en Jane was die gesin se alleenbroodwinner. Tragedie het die familie weer getref toe Daniël ʼn jaar gelede weens Covid-19 gesterf het. “Hy was ʼn goeie pa. Dit was baie swaar vir my. Ek het vier kinders gehad wat nog op skool was.”

Jane het deurgedruk, Tebogo het vir hom ʼn NSFAS-beurs by die NWU losgeslaan en onlangs kon ma en seun saam ʼn onvergeetlike dag deel.

“Ek is ʼn baie gelukkige ma. Hy maak my so trots, want hy het moeilike omstandighede trotseer en oorwin.”

Tebogo is tans op die uitkyk vir werk, en hoewel sy soektog nog nie vrugte afgewerp het nie, sê sy ma dat hy net moet moed hou: “Op skool het hy nie opgegee en gaan werk nie. Hy het vasgebyt en aangehou. Op universiteit ook. Ek wil vir hom sê hy moet aanhou sterk wees soos hy op skool was.”

En Jane, Jane sal daar wees om haar kroos te ondersteun. Geen duwweltjies op haar pad sal haar van stryk bring nie.

.......

Jane Fransman

.......

Tebogo Fransman

Submitted on Tue, 06/21/2022 - 14:47