Driekuns vir “nicosmiti” met ’n derde lewende spesie wat sy naam dra

In William Shakespeare se toneelstuk Romeo en Juliet vra Juliet die eeue oue vraag: “What’s in a name?” In die geval van die Noordwes-Universiteit (NWU) se navorser prof Nico Smit is die antwoord duidelik – sy naam is sinoniem met kundige bydraes op die gebied van dierkunde.

Hierdie gevierde akademikus en parasitoloog-taksonoom volg in die voetspore van gerespekteerde mense soos die bioloog en skrywer sir David Attenborough en die voormalige president van die Verenigde State Barack Obama. Net soos hulle kan prof Smit ook spog dat lewende spesies na hom vernoem is.

Prof Smit het onlangs gehoor dat ’n derde spesie nou sy naam dra. Die eerste twee is isopodes wat ook klein skaaldiere insluit – ’n visparasiet (Lobothorax nicosmiti) van Indië en ’n vrylewende isopode (Metacirolana nicosmiti) van die koraalriwwe in Fidji. Die jongste een is ’n platwurm (Neofibricola smiti) wat krokodille in Afrika infesteer.

“Dit is ’n ongelooflike eer vir my, aangesien ek in my werk as taksonoom daaraan werk om parasiete te benoem, klassifiseer en beskryf.” Prof Smit het al in sy loopbaan meer as 80 nuwe spesies beskryf en het ook die eer gehad om spesies na ander mense te vernoem. “Dit is baie spesiaal, aangesien ek weet wat die prosesse behels om organismes te benoem en hoeveel beplanning daarmee gepaard gaan.”

Hoe spesies benoem word

Hy verduidelik dat wanneer spesies benoem word, ’n nuwe naam gewoonlik na die fisieke eienskappe verwys. ’n Organisme met drie kolletjies kan byvoorbeeld ’n naam met die woord “tri” daarin hê. In prof Smit se geval gaan dit meer oor sy betekenisvolle bydraes tot die wetenskap.

Verskeie navorsers was by die jongste benoemingsproses van Neofibricola smiti betrokke. Die parasiet wat nou prof Smit se naam dra, was die onderwerp van ’n navorsingsartikel deur dr Olena Kudlai, postdoktorale genoot van die NWU en oorspronklik van Oekraïne, wat saam met navorsers van die VSA, Litoue, die Navorsingsinstituut vir Veeartsenykunde, Onderstepoort, en die Universiteit van Pretoria gewerk het.

Hulle motivering vir die benoeming was: “Die spesienaam is gegee om prof Nico Smit te vereer ter erkenning van sy talryke bydraes tot parasitologie en veral die kennis van parasiete van waterdiere in Suid-Afrika.”

Die hoofondersoeker van die projek, prof Vasyl Tkach, wat ook oorspronklik van Oekraïne kom, skryf: “U het so veel vir parasitologie in Afrika en die res van die wêreld gedoen. Ek is persoonlik baie dankbaar dat u u laboratorium vir my jonger Oekraïniese kollegas oopgestel het en aan postdoktorale studente wonderlike mentorskap verskaf het wat hulle baie met hulle professionele ontwikkeling gehelp het.”

Prof Smit sê dat die waardering vir sy toewyding aan die opleiding en mentorskap van die toekomstige geslag navorsers meer as enigiets anders beteken. “Want watter nut het ’n naam as dit nie op ’n betekenisvolle nalatenskap dui nie?”

 

....

...

...

Die drie organismes wat prof Nico Smit se naam dra, is Lobothorax nicosmiti, Metacirolana nicosmiti en Neofibriola smiti.

...

....

Prof Nico Smit is ’n kundige navorser in parasitologie wat ’n diep liefde en waardering vir die natuur

Submitted on Thu, 11/03/2022 - 11:48