Dit is die soort taal waarin ’n PhD-student aan die Noordwes-Universiteit (NWU), Natasha Ravyse, belangstel. Die titel van Natasha se studie is "Revisiting ethno linguistic vitality: The case of subcultural repertoires within a super diverse world". Dit fokus op die tale wat deur subkultuurgroepe in die samelewing gebruik word. Dit is groepe in die breër samelewing wat verskillende oortuigings en waardes het, en wat dinge anders doen as die hoofstroom- of algemene samelewing. In die Suider-Afrikaanse konteks beskou die mynwerkers wat ’n taal soos Fanagalo gebruik hulleself byvoorbeeld as ’n spesiale groep as gevolg van hulle werk.
Fanagalo is die spesifieke taal wat hierdie groep gebruik, maar dit word nie deur die algemene samelewing amptelik as ’n taal erken nie. Net so is daar ’n groep mense regoor die wêreld wat Klingon gebruik – ’n saamgestelde taal wat deur die fiktiewe karakters van Klingon-afkoms in die Star Trek-reeks films gepraat word. Natasha stel belang om te verstaan hoe nie-amptelike tale soos Fanagalo en Klingon gebruik word deur hierdie groepe wat nie tipies deel van die hoofstroomsamelewing vorm nie.
Om nuwe (taal-) terreine dapper te ontgin
Dit wil voorkom of haar soeke na data nogal uitdagend was. “Ek het in die begin ’n geweldige reaksie gekry,” sê sy, “veral van Klingon-sprekers. Die Klingon-taal het ’n hele taalinstituut wat daaraan toegewy is.” Sy het daarin geslaag om ’n administrateur van die instituut te bereik wat haar geweldig baie met haar data-insamelingsproses gehelp het.
Die Dothraki-, Valerian- en New Valerian-tale van die Game of Thrones-franchise is steeds baie nuut. Terwyl sy data vir haar studie ingesamel het, het Natasha ’n lys ontdek wat gebruikers van hierdie tale se besonderhede verskaf het, en wat hulle as nuut, middelmatig of vlot gekategoriseer het!
Hierdie ontdekking het haar in aanraking gebring met talle sprekers van subkultuurtale, hoofsaaklik van die Noord-Amerikaanse vasteland. In Europese lande, veral Frankryk en Duitsland, word die subkultuurtaal Esperanto wyd gepraat. Natasha het ook daarin geslaag om ’n hele paar respondente wat Esperanto praat, te kontak. Haar grootste stryd was egter op tuisbodem.
Sprekers van Fanagalo, Flaaitaal en Tsotsitaal was moeilik om in die hande te kry en hulle was nie baie gretig om aan die navorsing deel te neem nie. “Die feit dat hierdie tale nie formeel erken word nie, beteken dat daar geen presiese statistiek daaroor beskikbaar is nie. Ons weet nie hoeveel mense elkeen van hierdie tale praat nie, en dit kompliseer dinge beslis,” sê sy.
Uitdagings is deel van data-insameling
Hoewel die proses van data-insameling redelik stresvol was, was dit nie haar eerste kennismaking met probleme nie. Vir haar meestersgraadstudie, wat spesifiek na Fanagalo gekyk het, het Natasha data ingesamel op ’n baie plofbare tyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis – net ná die Marikana-skietery.
Dit het haar ses maande geneem om toestemming te kry om onderhoude te voer met respondente by die myn waar sy haar navorsing gedoen het. Die dag nadat sy dit afgesluit het, het geweld weer uitgebreek. Haar pogings is egter beloon met die NWU-kanseliersmedalje vir navorsing.
Natasha sê haar liefde vir navorsing het by die NWU begin toe sy in 2013 vir ’n honneursgraad ingeskryf het. Haar akademiese loopbaan het vlerke gekry en ondersoeke, ontdekkings en begrip het haar passie geword. “As ek aan die einde van my lewe kom en my navorsing het insig in dinge gebring wat voorheen nie goed verstaan is nie, sal dit vir my genoeg wees. Ek sal gelukkig wees,” sê sy nederig.
Natasha Ravyse bestudeer tale wat deur subkultuurgroepe in die samelewing gebruik word.