Dit is tyd om omgewingsregulasies te laat werk

Met oproepe om veiliger, skoner omgewings, stel ’n navorser van die Noordwes-Universiteit (NWU) voor dat plaaslike regerings bestaande omgewingsregulasies afdwing om ’n beter lewensgehalte vir almal te verseker.

Maricélle Botes, wat deel is van die navorsingspan by die Fakulteit Regte se Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in stede, die reg en omgewingsvolhoubaarheid (Cities, Law and Environmental Sustainability, CLES), sê hoewel regulasies en instrumente beskikbaar is, dit nie altyd benut word nie.

Sy het onlangs haar meestersgraadverhandeling voltooi en dit cum laude geslaag met haar studie getiteld “Legal instruments in South African environmental and local government law for the protection of ecosystem services in cities”.

Prof Anél du Plessis, die bekleër van die CLES-leerstoel, was die studieleier, en so ook die waarnemende direkteur van die pasgestigte wêreldwye omgewingsregsentrum (Global Environmental Law Centre, GELC), dr Angela van der Berg. Die studie is deur die Nasionale Navorsingstigting en die Fakulteit Regte befonds.

Maricélle het deur middel van ’n literatuuroorsig gekyk na die noodsaaklike onderwerp van ekostelseldienste in stede waaroor daar min navorsing is, en het op mikroklimaatsregulering gefokus. Haar studie het die opsies in die reg vir die beskerming van mikroklimaatsregulering as ’n stedelike ekostelseldiens in Suid-Afrika ondersoek.

Die Suid-Afrikaanse regsraamwerk maak voorsiening vir die beskerming van talle regte wat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, verskans is, insluitende die reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir ’n mens se gesondheid en welstand is nie.  

Stedelike hitte-eilande is ’n gevaar

Stedelike gebiede, waar die meeste mense woon, wemel van omgewingskwessies soos omgewingsdegradasie, besoedeling, oorbenutting van natuurlike hulpbronne, en veranderings in die klimaat van stede wat met die wêreldwye klimaatskrisis verband hou. Laasgenoemde hou veral as gevolg van stedelike hitte-eilande (stedelike gebiede wat as gevolg van menslike aktiwiteite beduidend warmer as die omliggende landelike gebiede is) ’n bedreiging vir die mens se gesondheid en welstand in.

Hierdie hitte-eilande beïnvloed die temperatuur in stede beduidend, verhoog energieverbruik en verwante besoedeling, verminder lugsirkulasie en voorkom dat die algemene stadsomgewing kan afkoel.

Die uitdagings wat in stede ervaar word, bedreig ekostelsels se vermoë om noodsaaklike dienste te verskaf waarvan lewe afhanklik is. Onder die ekostelseldienste wat deur die natuur gelewer word, is voedsel- en waterproduksie, lug- en waterfiltrasie, bestuiwing, fotosintese en klimaatbeheer in die vorm van mikroklimaatsregulering. Maricélle se navorsing het op laasgenoemde gefokus.

Eenvoudig gestel, is mikroklimaatsregulering die balansering en beheer van temperature en klimate in kleiner gebiede soos stede, en is kritiek om stedelike hitte-eilande teë te werk.

Mikroklimaatsregulering word onderbenut

Die Suid-Afrikaanse omgewingsreg en wetgewing oor plaaslike regering maak ruim voorsiening vir vrywillige en verpligte instrumente vir omgewingsbeheer en  direktiewe, instrumente vir bewaring, instrumente vir beplanning, geïntegreerde omgewingsinstrumente, kontraktuele reëlings en aansporingsgebaseerde instrumente. Saam met al hierdie instrumente bevat die regsraamwerk ook wetlike afdwingingsmaatreëls en spesifieke munisipaleregeringsinstrumente vir die beskerming van mikroklimaatsregulering.

Mikroklimaatsregulering speel egter nie ’n prominente rol in die Suid-Afrikaanse wetsraamwerk en in verwante literatuur oor stedelike gebiede nie. Sy sê voorts dat dit duidelik is dat die ekologiese komponente wat mikroklimaatsreguleringsdienste verskaf, baie swak beskerm word. Maricélle waarsku dat hierdie dienste in baie gevalle bedreig word en die gevaar loop om onherstelbaar beskadig te word. Dit is ten spyte van die uitgebreide lys beskikbare instrumente om die omgewing en sy komponente te beskerm.

Maricélle glo dat talle van die instrumente toepaslik is vir die beskermingspogings van munisipaliteite, of gewysig kan word om hulle omgewingsbeskermingsmandaat te pas. Sy stel voor dat munisipaliteite omgewingsdoelwitte,  teikens en  oorwegings by hierdie instrumente inkorporeer.

Mariselle Botes

Maricélle Botes.

Submitted on Fri, 09/17/2021 - 09:50