Die toekoms van die NWU Besigheidskool – Projek Proton

Prof Jan van Romburgh het sy visie vir die NWU Besigheidskool vir die volgende vyf jaar gekoester, beplan en bepeins. Hy het onlangs sy visie in die vorm van ’n vars en innoverende metafoor – naamlik Projek Proton – gedeel. Hy het al sy kollegas, die adviesraad, en ander belangrike figure van die NWU Besigheidskool uitgenooi om sy vooruitsigte te deel en ook om van hulle kennis gebruik te maak. Die virtuele teenwoordiges is deur prof Raymond Parsons verwelkom en deur dr Jacques Faul gegroet en geïnspireer, en die vergadering is deur prof Jan self gelei.

Prof Raymond Parsons, voorsitter van die adviesraad van die NWU Besigheidskool, het sy opgewondenheid oor Projek Proton gedeel, en hy is vol vertroue dat die Besigheidskool in ’n veranderende wêreld mededingend kan wees. “Die nuwe benadering moet wees dat dit nodig is om aan te pas en ons visie en missie in ’n veranderende wêreld in te neem, en om dit met sukses te doen, is baie soos om fiets te ry – as jy stop, val jy af.”

Dr Jacques Faul, wat al 18 jaar lank ’n HUB in professionele sportadministrasie, ’n gerespekteerde sakeman, en ’n NWU Besigheidskool-alumnus is, het die teenwoordiges toegespreek met ’n verhaal van passie, motivering en harde werk. Hy het in al sy jare in die krieketbedryf ’n hele paar lewenslesse geleer, wat hy goedgunstiglik met die NWU Besigheidskool se personeel gedeel het. “Ons as professionele mense is geneig om ons oorwinnings vinnig agter te laat en aan nuwe doelwitte te begin werk. Ons moet onsself egter beloon, en tyd maak om ons suksesse te vier,” sê dr Faul.

“Ons moet soos water vloei.” Dr Faul het verduidelik dat van die suksesvolste mense wat hy ken, soos water is. Niks keer hulle nie, daar is geen struikelblok wat hulle kan indam nie, hulle beweeg bloot daar rondom, onderdeur of bo-oor. Ons moet net so aanpasbaar wees in ons passies en ons drome.

Die lewe het dr Faul op die kruin van sy loopbaan hard geslaan – sy geliefdes is deur siekte aangeraak en was skielik in gevaar. In plaas daarvan om onder hierdie druk te swig, het hy besluit om na familie uit te reik en hulle toe te laat om namens hom sterk te wees toe hy dit nie self kon doen nie. Dit het hom net sterker gemaak en tot verdere suksesse in sy lewe bygedra. “Onthou dat julle sterk punte julle moet definieer, nie julle swakhede nie,” het hy gedeel. Ná sy inspirerende boodskap het die teenwoordiges hom met ’n virtuele applous vir sy eerlike en bemoedigende boodskap bedank.

Die personeel se afwagting is uiteindelik beloon toe prof Van Romburgh begin het om sy visie met hulle te deel. “Wat noem ons ons strategiese plan? Wat wys ons vir mense wanneer hulle vra: ‘Wat is volgende?’ Ons wys vir hulle Projek Proton!” Projek Proton gaan die NWU Besigheidskool se bloudruk wees vir hoe hulle hulleself tot in 2026 gaan belyn. 

Die aanbieding het begin met ’n moderne, futuristiese video wat die metaforiese wese van die Projek Proton-plan uiteensit. “In ’n immerveranderende wêreld kan jy nie bekostig om stagnant te wees of stil te staan nie. Verbeel jou dat jou beweging dié van energie of elektrisiteit is. Dit moet vloei om te kan aanpas en in die regte rigting te beweeg. As jy wil, beweeglik soos ’n atoom met protone en elektrone … Die Noordwes-Universiteit Besigheidskool kan direk met so ’n atoom vergelyk word.”

Prof Van Romburgh het verduidelik dat die atoom net so sterk soos sy kern – die proton – kan wees. “Die kern, wat vir die Besigheidskool ons MBA, PGDIP en navorsing sal wees, moet gesond en sterk wees. Die elektrone sal om die kern wentel. Ons elektrone moet aanpasbaar, beweeglik en maneuvreerbaar wees – hulle is ons eie innoverings en projekte soos die Think Tanks, Bon Bons, die kortkursusse wat op bestuurslede gemik is (Executive Education) ens.,” het prof Van Romburgh verduidelik.

Die Think Tanks het die afgelope ruk ongelooflike terugvoer gekry en die bywoning het met die laaste sessie met ongeveer 200 deelnemers toegeneem. Die volgende sessie sal ook uiters relevante en kritieke onderwerpe in Suid-Afrika hanteer, soos aanbevelings oor hoe om korrupsie in ons land te benader. Die Bon Bons, Mynbou- en Landbou- en Belanghebber-elektrone doen almal uiters belangrike werk in Afrika.

Op die sfeer van die atoom het ons ook redelike nuwe idees en potensiaal gesien wat in die nabye toekoms bereik kan word, soos naamregte vir die NWU Besigheidskool. “Ons doelwit is om ’n vyfjaar-AMBA-akkreditasie te ontvang, waarna die verkryging van naamregte vir die Besigheidskool die volgende prioriteit sal wees,” het prof Van Romburgh gedeel. Ander belangrike projekte wat aangebied sal word, is ’n bestuursinligtingstelsel wat aan die NWU Besigheidskool toegewys sal word, en professionele besigheidskonsultasies, wat ’n diens van die Besigheidskool se personeel aan die gemeenskap sal wees.

“Ek is oortuig dat ons, as ’n groep professionele persone, die Besigheidskool na die volgende vlak sal kan neem. Met hierdie strategie in gedagte, sal ons ons hulpbronne gebruik om ons planne uit te voer,” het prof Van Romburgh sy aanbieding afgesluit, en al die teenwoordiges genooi om hulle idees vryelik te deel en ook hulle insette oor Projek Proton te lewer.

........

Prof Jan van Romburgh

Submitted on Fri, 06/04/2021 - 15:05