Die prys van boeliegedrag

Sommige kinders kan die impak van boeliegedrag maklik verwerk, terwyl ander jare lank met die nadraai van hierdie traumatiese gebeure sukkel.

Tebello Mabusela, ’n voorligtingsielkundige en dosent in sielkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), bespreek van die nagevolge en die werklike prys van boeliegedrag vir sommige slagoffers.

Sy sê dat ’n vertraging in die verwerking van traumatiese gevoelens wat deur boeliegedrag veroorsaak word, ’n invloed sal hê op die tipe volwassene wat iemand word.  Volwassenes wat as kinders geboelie is, is geneig om ongesonde hanteringsvaardighede, woede, aggressie en sussende gewoontes soos middelmisbruik en selfbesering te gebruik om die pyn te verdoof.

“Hierdie ongesonde hanteringsmeganismes kan tot selfvernietiging op talle gebiede van die lewe lei.  Nuwe uitdagings beteken soms dat daar nuwe maniere aangeleer moet word om dinge te hanteer, maar sommige volwassenes met vertraagde verwerking van trauma uit die verlede is vasgevang in hulle eie hanteringsmeganismes en vind dit moeilik om positief by nuwe omstandighede aan te pas,” sê Tebello.   

Sy voeg by dat slagoffers van boeliegedrag ook geestesgesondheidsiektes soos posttraumatiese stres en traumaverwante siektes kan ervaar, wat weer tot angs, depressie en dissosiasie kan lei, en later kan manifesteer as persoonlikheidsversteurings wat nie maklik behandel kan word nie.

Slagoffers kan ook psigosomatiese simptome ervaar – dit is die fisiese reaksie op voortgesette psigologiese ontsteltenis wat as hardnekkige hoof-, nek- en rugpyn, en soms ook as spysverterings- en hormonale probleme manifesteer.

Hulp vir slagoffers

Ons karaktereienskappe, opvoeding, rolmodelle, omgewingspersepsies en ervarings is dinge wat ons beïnvloed om op verskillende maniere die uitdagings van die lewe te hanteer.

Tebello sê dat ouers en voogde moet weet dat boelies en slagoffers deur die omgewing gevorm word, en dat albei van hulle traumatiese ervarings het wat hulle moet verwerk. Slagoffers moet trauma onmiddellik verwerk om ongesonde hanteringsmeganismes en wanaangepaste funksionering oor die lang termyn te voorkom, terwyl boelies trauma wat lank gelede plaasgevind het en as aggressie, woede, ongesonde hanteringsmeganismes en wanaangepaste funksionering manifesteer, moet verwerk.

Sy raai ouers en voogde wie se kinders boeliegedrag ervaar het, aan om verskeie gesondheidsorgkenners te kontak wat die trauma vinnig kan hanteer. Hierdie gesondheidsorgkenners kan help met die verwerking van gevoelens, en slagoffers help om te heel en om gesonder maniere aan te leer om dinge te hanteer, insig te verkry, en ’n nuwe narratief saam te stel en positiewe geestesgesondheid te verkry.  

Hoewel boeliegedrag mense verskillend affekteer, moet ouers en voogde by gesondheidsorgkenners hulp soek vir kinders om langtermynskade te voorkom.

Submitted on Fri, 08/20/2021 - 08:14