Die nuwe (onbekende) wêreld van werk

Die wêreld van werk ná die Covid-19-pandemie gaan anders wees as die een waaraan ons gewoond is. Dit is die mening van prof Bennie Linde, ’n professor in arbeidsverhoudinge aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Prof Linde voorspel dat die pandemie ook toekomstige navorsing in arbeidsverhoudinge wesenlik gaan beïnvloed. “Die beraming dat die Vierde Industriële Revolusie (4IR), met ’n meer digitale werkplek, die meeste werkplekke – veral in die finansiële en dienstesektor – binne vyf jaar sou bereik, kan nou met twee tot drie jaar vervroeg word.”

Volgens prof Linde beteken dit dat heelwat navorsing nodig is oor hoe die werkplek gaan transformeer, wat ’n direkte invloed op die inherente vereistes van werknemers sal hê, en oor die manier waarop die werkplek bestuur gaan word.

 “Sosiale norms dwing skielik nuwe verwagtings op die werkplek af, soos die verpligte dra van beskermende klere en gesigsmaskers in die openbaar. Dit beteken nuwe werkplekreëls en -prosesse wat anders is as waaroor daar in die verlede tussen die werknemers en werkgewers ooreengekom is,” sê hy.

Navorsing moet gedoen word oor hoe hierdie nuwe verwagtinge en verpligtinge gekommunikeer word (vir rolduidelikheid), hoe dit toegepas word (arbeidsverhoudingebestuur), en hoe dit die vertrouensverhouding beïnvloed.

Die verskuiwings in die werkplek sal navorsers ook dwing om aan te pas deur hulle navorsingsmetodes en -ontwerpe te verander.

Navorsing in die veld van arbeidsverhoudinge

Prof Linde se navorsing by die Work Wellness-program van die WorkWell-navorsingseenheid fokus op die werksverhouding en die dinamika tussen die werkgewer en die werknemer.

Hy verduidelik: “Die ervaring van hierdie verhouding word op die implisiete persepsies en verwagtings van die betrokke individue gegrond. Die amptelike dienskontrak is maar ’n klein gedeelte hiervan. Mense se persepsies en verwagtinge van die diensverhouding is hoofsaaklik op persoonlikheidseienskappe, groepassosiasie en maatskaplike norme soos arbeidswette gegrond. Dit is waarom ons sê dat werkgewers en werknemers ’n sielkundige kontrak het.”

Prof Linde het hierdie aspek van arbeidsverhoudinge saam met van sy medenavorsers, naamlik prof René Schalk van die Universiteit van Tilburg, wat ook ’n buitengewone professor by die NWU is, en Herman Linde, ook van die Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur, ondersoek.  

Hulle het byvoorbeeld vasgestel dat wanneer werknemers weet wat van hulle verwag word (hoë rolduidelikheid), hulle ’n groter vertroue in hulle werkgewers het. Dit het op sigself ’n impak op die werknemer se gedrag in die werkplek en op die werknemer se welstand.

Prof Linde se onlangse publikasie, “The contribution of employment relations practices to the amelioration of society”, in die African Journal of Employee Relations gee ’n oorsig van die dinamiek van die diensverhouding.

Die evolusie van die diensverhouding

Volgens prof Linde is die oudste verwysing na die diensverhouding ’n betaalstrokie in die vorm van ’n kleitablet, wat aandui dat werkers aan die Giza-piramides met bier (sowat drie liter per dag) betaal is.

Die “verkoop” van arbeid vir ’n vorm van besoldiging op hierdie manier is ’n beginsel wat die huidige diensverhouding omskryf. Voordat hierdie gebruik algemeen geword het, is die toegang tot arbeid gewoonlik deur die eienaarskap van werksmense – of slawerny – verkry.

Hoewel die benadering tot arbeidsverhoudinge intussen heelwat verander het, bly die basiese beginsels van hierdie antieke diensverhouding behoue.

Die grootste veranderings het met die Industriële Revolusie gekom toe geboorte vir die eerste keer nie meer ’n persoon se status bepaal het nie, en nywerheidsvaardighede gesog geraak het. Die skepping van vakbonde vir kollektiewe bedinging het tot ’n totaal nuwe magsbasis gelei, waar eienaarskap (veral grondeienaarskap) nie die enigste mag was nie. Kollektiewe weerhouding van arbeid deur groot groepe nywerheidswerkers deur middel van stakings het ’n nuwe balans tot gevolg gehad.

Prof Linde meen dat arbeidspesifieke wetgewing die gevolg van hierdie kollektiewe bedinging is, met basiese diensvoorwaardes en ander minimum arbeidsverhoudingevereistes wat gestel word. Dit het daartoe gelei dat arbeidsverhoudinge ’n sisteembenadering volg wat deur wette en regulasies beheer word. Hierdie benadering word as bedingingskorporatisme beskryf.

Met die 4IR wat veld wen, en kuberfisiese tegnologie wat ’n toenemende groter impak op die werkplek het, ervaar ons nou ’n ander oorgangstydperk, sê prof Linde. Die gevolg gaan wees dat minder werknemers vir fisieke arbeid in diens geneem gaan word, wat ’n toenemende werkloosheidskoers gaan veroorsaak.

Voeg hierby die impak van die Covid-19-pandemie en dit is duidelik dat ons ’n nuwe en algehele onbekende werksomgewing tegemoetgaan.


Prof Bennie Linde.

Submitted on Thu, 06/18/2020 - 16:17