Die Noordwes-Universiteit kondig ’n nuwe voorsitter en ondervoorsitter vir sy Raad aan

Die Raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) het op sy vergadering van 23 Junie 2022 ’n nuwe voorsitter en ondervoorsitter verkies.

Mnr Bert Sorgdrager, ’n gesoute regskundige met meer as 30 jaar ervaring in die privaat sektor, is as die sesde voorsitter van die NWU Raad verkies.  Mnr Obakeng Mongale, ’n ervare staatsamptenaar en die huidige superintendent-generaal vir die Noordwes Departement van Gesondheid, sal as ondervoorsitter dien.

Dit volg op die bedanking van die vorige voorsitter, dr Bismark Tyobeka, wat intussen as hoof en visekanselier van die NWU aangestel is.

“Ek is trots daarop dat ek kan voortgaan om my alma mater te dien en beskou dit as ’n voorreg om na die belange van die NWU om te sien, tans sowel as in die toekoms,” sê mnr Sorgdrager. Sy assosiasie met die universiteit strek terug tot by sy inskrywing in 1977 vir, en die voltooiing van sy BJuris- (1979) en LLB-graad (1981) by die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, nou die NWU.

Mnr Sorgdrager, tans ’n prokureur by Van Deventer Dlamini Inc, het vroeër as waarnemende voorsitter en ondervoorsitter op die NWU Raad gedien.  Hy is sedert 2017 ’n Raadslid (uit die geledere van die Konvokasie gekies) en is sedert September 2018 ’n lid van die uitvoerende komitee van die NWU Raad.

Sy assosiasie met die NWU sluit in dat hy op verskeie komitees dien en sedert Augustus 2014 ’n lid van die uitvoerende komitee is, asook voorsitter van die NWU Konvokasie sedert April 2018.  Hy is ook sedert Augustus 2014 die voorsitter van die NWU Alumnivereniging en sedert 2012 die verteenwoordiger van die Potchefstroomkampus se alumni.

Mnr Sorgdrager het die grootste gedeelte van sy loopbaan in die bankwese, veral by Nedbank, deurgebring, waar hy as regsadviseur gedien het, en ook verskillende bestuursposisies in risikobestuur beklee het.

Mnr Mongale is ook ’n trotse alumnus van die NWU en het ’n Nagraadse Diploma (PGDip) in Bestuur, en ’n meestersgraad in Bedryfsielkunde. Hy het ’n honneursgraad in Bedryfsielkunde en ’n baccalaureusgraad in Administrasie aan die voormalige universiteit van Bophuthatswana, nou die NWU, verwerf. Hy is ’n Oliver Tambo-genoot (Nagraadse Diploma in Gesondheidsbestuur) aan die Universiteit van Kaapstad (UK).

Mnr Mongale studeer tans vir ’n meestersgraad in Filosofie in Konfliktransformasie aan die Nelson Mandela Universiteit.

“Ek is geëerd om as ondervoorsitter te dien en ek is daartoe verbind om hierdie noodsaaklike rol in die Raad te vervul.”  Sy vorige ervaring sluit in dat hy op verskeie Raadskomitees gedien het, soos die uitvoerende komitee en tenderkomitee, asook op die taakspan van die mediese skool en die uitgebreide uitvoerende komitee. Hy het in 2017 ’n Raadslid geword nadat hy as ministeriële verteenwoordiger aangestel is en het in September 2020 begin om sy tweede termyn uit te dien.

Mnr Mongale is ’n voormalige hoof van die Departement van Openbare Werke in Noordwes, en van Openbare Werke, Paaie en Infrastruktuur in die provinsiale regering van Limpopo.  Tydens sy dienstyd as die hoof van die departement by Openbare Werke in Noordwes het die departement verskeie toekennings gewen. Hy het voorheen as die direkteur vir Mensehulpbronne by Noordwes se Departement van Gesondheid gedien, toe as hoofdirekteur vir Korporatiewe Dienste en as hoof van die departement. Mnr Mongale het van Oktober 2010 tot September 2013 na die Noordwes Departement van Gesondheid teruggekeer, waar hy vir gesondheidsondersteuning en gespesialiseerde hospitaaldienste verantwoordelik was.

Mnr Mongale het as raadslid by die Johannesburgse Property Company, ’n maatskappy van die Stad Johannesburg, gedien (April 2019 tot Maart 2020). Hy was ook ’n lid van die raad van trustees van die Gesondheidstelseltrust (Health Systems Trust) waar hy as voorsitter van die raad se MH-komitee en as lid van die finansiële komitee (2010 tot 2013) gedien het.

Navrae:           Mnr Louis Jacobs: 082 901 6435

 

...

Die Raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n nuwe voorsitter en ondervoorsitter verkies. Mnr Obakeng Mongale sal as ondervoorsitter dien en mnr Bert Sorgdrager is as die sesde voorsitter verkies.  

Submitted on Fri, 06/24/2022 - 09:37