Die belangrikheid van ondersteuning

Dit neem ’n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld gemiddeld sewe pogings voordat hulle ’n toksiese verhouding verlaat. Dit raak egter makliker vir ’n slagoffer om die moed bymekaar te skraap om uiteindelik pad te gee – en weg te bly – as hulle ondersteuning van familie en vriende ontvang.

Tebello Mabusela, ’n dosent aan die Skool vir Psigososiale Gesondheid by die Noordwes-Universiteit (NWU), praat oor die belangrikheid van ondersteuning van familie en vriende wanneer iemand in ’n toksiese verhouding is.

Tebello sê dat slagoffers weet dat hulle sleg behandel en misbruik word, maar dat hulle geneig is om ter wille van hulle kinders, die gevoel dat hulle êrens behoort, en finansiële ondersteuning in hierdie verhoudings te bly. Hulle bly ook daar omdat hulle die kuns bemeester het om met die mishandeling en die gewelddadige lewensmaat saam te leef.

Dit is belangrik dat familielede navorsing doen oor die redes en faktore waarom die slagoffer nie die toksiese verhouding verlaat nie, en dit verstaan.

“Voordat jy iemand help om ’n gewelddadige verhouding te verlaat, maak seker dat jy hulle ekstern en intern voorberei het vir die verandering wat gaan plaasvind. Maak seker dat daar eksterne hulpbronne is wat die slagoffer sal help om buite die verhouding te funksioneer. Hierdie hulpbronne sal die slagoffer help dat hulle nie na hulle mishandelaar terugkeer nie,” sê Tebello.

Volgens Tebello moet familie en vriende onvoorwaardelike en nieveroordelende ondersteuning aanbied. Hulle moet daar wees vir die slagoffer, en aan die slagoffer praktiese raad gee soos dat hulle die polisie, krisissentrums, ens. moet bel.

“Om te help, beteken om teenwoordig te wees, selfs al het jy 100 keer vir die slagoffer gesê dat sy die gewelddadige verhouding moet verlaat. Om teenwoordig te wees, beteken om deur te druk en geduldig te wees met iemand wat lyk of hulle ‘’n obsessie’ oor die mishandelaar het. Vir hulle is mishandeling normaal,” sê Tebello.

Tebello beklemtoon dat GBV-slagoffers berading moet ontvang nadat hulle die toksiese verhouding verlaat het.

“Berading sal die slagoffer help om vaardighede en interne hulpbronne te ontwikkel om aan te beweeg en onafhanklik te word. Slagoffers moet daaraan herinner word wat geluk is en hoe selfliefde en selfversorging lyk.  Terapie en kraggebaseerde intervensie deur ’n gesondheidsorgkundige kan help om die persoon uit hulle eie geestesgevangenis vry te laat,” sê Tebello.

GBV-hulplyne: 

Nasionale GBV-hulplyn: 0800 150 150

People Opposed to Women Abuse (Powa): 011 642 4345/ info@powa.co.za

Families South Africa (Famsa): 011 975 7106/7

Thuthuzela-versorgingsentrums (TCCs): 0800 428 428

Tears Foundation: SMS-hulplyn *134*7355# /info@tears.co.za

....

Tebello Mabusela

Submitted on Mon, 12/07/2020 - 11:32