Colombiaanse ambassadeur besoek die NWU om oor die rol van gender in die samelewing te praat

Daar is te veel wanopvattings oor die rol wat gender in die samelewing speel. Dit is die mening wat die agbare ambassadeur Maria Del Rosario Mina Rojas van Colombia op Vrydag 18 Augustus tydens haar besoek aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) uitgespreek het.

In ’n interaktiewe sessie het die agbare ambassadeur Mina Rojas ’n toespraak getiteld “The role that gender plays in society and the impact it has on traditional gender norms” gelewer. Dit het nie net byval gevind nie, maar het ook belangstelling onder personeel sowel as studente ontlok.

Volgens haar word die rol wat gender in die samelewing speel steeds nie na waarde geskat nie, en daar is talle wanopvattings wat aandag moet ontvang oor die impak wat gender op tradisionele gendernorms het. Sy het ook haar kwelling uitgespreek oor kommerwekkende tendense wat gender betref, veral die marginalisering van vroue wat steeds in Suid-Afrika sowel as in Colombia voorkom.

Sy het ook die noodsaaklikheid daarvan beklemtoon dat die speelveld rakende gendernorms gelyk gemaak moet word. Sy meen dat dit van die uiterste belang is dat daar ten opsigte hiervan so veel as moontlik gedoen moet word om mense op te voed – veral die jeug – oor die rol wat gender in die samelewing speel.

Die gebeurtenis het nie slegs ’n magdom positiewe besprekings oor hierdie baie belangrike saak uitgelok nie, maar het ook die fondament vir toekomstige samewerking gelê. 

Die NWU is verbind tot die versekering dat gendergelykheid nie net deel van die universiteit se sorgsaamheidsetiek vorm nie, maar dat gegradueerdes toegerus word met die kennis om ’n samelewing te help bou waar gelykheid gedy. Dit word deur talle inisiatiewe gedoen, waarvan die onlangse Genderbewustheidsweek maar slegs een is.

Prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir onderrig en leer, saam met die agbare ambassadeur Maria Del Rosario Mina Rojas. 

Submitted on Thu, 08/24/2023 - 09:49