CFAM-papprojek deur Rotary International vereer

Miljoene Suid-Afrikaners het gely onder die impak van die nasionale inperkingsregulasies wat as gevolg van die koronaviruspandemie ingestel is. ’n Plaaslike Potchefstroomse ingenieursmaatskappy, CFAM Technologies, wat ’n newemaatskappy van die Fakulteit Ingenieurswese van die Noordwes-Universiteit is, het die bul by die horings gepak om te verseker dat inwoners in en om die plaaslike omgewing nie verder honger ly nie.

Drie van die maatskappy se rolspelers het onlangs van Rotary International se plaaslike tak erkenning vir hulle harde werk ontvang vir ’n projek wat hulle geloods het om voedingstof-verrykte pap aan plaaslike inwoners te verskaf.

CFAM is tans die enigste vervaardiger van dubbelskroef-ekstrueerders in Afrika en spesialiseer in ’n proses waarin rou materiaal soos mieliemeel teen hoë druk en hitte in ’n ekstrueerder gekook word om binne ’n paar sekondes ’n gaar, droë produk te lewer. As gevolg van die vinnige kookproses word die verteerbaarheid en absorpsie van voedingstowwe deur die menslike liggaam en die smaaklikheid van die produk bevorder.

Volgens LJ Grobler, direkteur van CFAM Technologies en een van die ontvangers van die toekenning, is die grootste voordeel van ekstrusie dat vitamines en voedingstowwe ná die kookproses by die finale droë produk gevoeg kan word. “Die blote byvoeging van water of melk by hierdie poeieragtige, droë produk  maak die voedsel gereed om geëet te word en bied ’n gebalanseerde maaltyd,” sê Grobler.

Die CFAM-papprojek verteenwoordig een van die mees innoverende voedingskemas in Suid-Afrika en is wêreldwyd genomineer as een van ses sulke innovasies waarvan die media kennis geneem het. Meer as 9 miljoen maaltye is reeds sedert Maart 2020 geproduseer en Rotary International het ’n spesiale skakel na hierdie projek.

Toe oproepe uitgestuur is vir befondsing om die projek van die grond af te kry, was Klerksdorp se Rotariërklub een van die eerstes om te reageer, en so ook pastoor Jaco Stander. “Ons weet hoe moeilik dit was om in daardie vroeë weke van Covid-19 befondsing en borge te kry, maar die Rotariërs het hulle deel gedoen om die CFAM-maaltye regoor Suid-Afrika te versprei. Rotary International, die Klerksdorpklub en die Rotary e-Club het ook prominent verskyn in die dokumentêre video wat vir ’n internasionale gehoor gemaak is,” sê Grobler.

Mnr Theo Venter, ’n bekende politieke ontleder en werknemer by die Noordwes-Universiteit se Besigheidskool, het die motiverings vir die pryswenners aangebied.

Die CFAM-papprojek het erkenning ontvang vir die beduidende bydrae tot humanitêre en opvoedkundige programme. Die prys se titel is “Paul Harris Fellow”, en dit is vernoem na die Rotariërs se stigter, ’n prokureur van Chicago, wat die organisasie in 1905 begin het.

Bekende ontvangers sluit Moeder Teresa, president Jimmy Carter, Boris Yeltsin, die VSA se ruimtevaarder James Lovell, VN-sekretaris-generaal Javier Perez de Cuellar, en die ontwikkelaar van die polio-entstof, Jonas Salk, in. Plaaslik het prof Thuli Madonsela meer as een so ’n genootskap ontvang.

Die Papprojek het onder die leierskap van prof LJ Grobler van die Fakulteit Ingenieurswese by die Noordwes-Universiteit begin. Sy internasionale ervaring in ekstrusie het hom ’n baie belangrike deel van die sukses van hierdie projek gemaak. Prof Grobler en mnr Theo Venter het baie vroeg in die pandemie ’n meningstuk geskryf om aan belangrike besluitnemers uit te wys hoe belangrik voedsel vir die behoeftiges in tye van inperking tydens pandemies is.

Ekstrueermasjiene van wêreldgehalte word onder leierskap en met die ingenieursvaardighede van Danie Vorster, die HUB van CFAM, in Suid-Afrika vervaardig. Mnr Danie Vorster het nie net die kapasiteit van CFAM vir die Papprojek beskikbaar gestel nie, maar ook tydens die projek geïnnoveer. Benewens dat Vorster en Grobler aan die begin van Covid-19 24-uur-skofte gewerk het, het hulle die “Pap-OTM” geskep, waarvoor hulle ook internasionale erkenning ontvang het.

Die derde lid van die span is Johan Janse van Rensburg, HUB van die ALS Construction-groep in Potchefstroom. Terwyl prof LJ Grobler en Danie Vorster na die tegnologie, voedselsamestelling en produksie omgesien het, was Johan Janse van Rensburg in beheer van die logistiek en skakeling met die owerhede. Hy het die Potchefstroomse Sakekamer by verskeie hoëvlakbesprekings verteenwoordig toe die regering die CFAM-projek vroeg in die Covid-19-pandemie met verskeie ongegronde en irrasionele besluite oor voedselverspreiding bedreig het. Sy vaardighede en onderhandelings het die ruimte geskep om voedsel met die hulp van kerke, NRO’s en veral Rotariërklubs te versprei.

....

Die drie nuwe “Paul Harris”-genote, prof LJ Grobler, mnr Danie Grobler en mnr Joan Janse van Rensburg, het ’n sertifikaat en lapelwapen ter waardering vir hulle werk van die voorsitter van die Rotariërklub in Klerksdorp, mnr Collin Engelbrecht, ontvang.

Submitted on Tue, 12/08/2020 - 08:52