Cachet Park CID kan net nog verder groei

Ná jare wat die groter Bult-area in Potchefstroom die primêre misdaadkern van die dorp was, het dit uiteindelik die sektor met die minste kriminele aktiwiteit geword.

Die afname in misdaad in die gebied is die direkte gevolg van die inisiatief van die Cachet Park City Improvement District (CID). Die CID se doel is om misdaad hok te slaan en om die woon-, vermaak- en sosialiseringservaring van studente van die Noordwes-Universiteit (NWU), sake-eienaars en gemeenskapslede te verbeter.

 Ná twee jaar as HUB van die Cachet Park CID het prof Fika Janse van Rensburg, wat ook die voormalige adjunk-visekanselier vir die Potchefstroomkampus is, uitgetree. Sy aanstelling as HUB was vir ’n tweejaartermyn, van 2019 tot 2020.

“Ek is baie bly dat die Cachet Park CID gevestig is as ’n selfonderhoudende en finansieel-lewensvatbare maatskappy sonder winsoogmerk, met die nodige momentum om voort te gaan om volgens sy mandaat te presteer. Ek het dit dus nie nodig gevind om die direksie te vra om my termyn te verleng nie.”

Die direksie het besluit om die poste van HUB en hoofbedryfsbeampte in ’n nuwe pos te kombineer, naamlik dié van algemene bestuurder. Johan Naude, ’n MBA-alumnus van die NWU, is vanaf 1 Desember 2020 in hierdie pos aangestel.  

Prof Fika en sy vrou, Sunette, verskuif na Linden, Johannesburg. Hulle sal daar hulle rolle as grootouers vervul, terwyl hulle ook die Gereformeerde Kerk Randburg en die Linden-gemeenskap sal dien.

Die hoogte- en laagtepunte

Die Cachet Park CID is geïnisieer nadat die Universiteit opgelet het dat die algemene onderhoud van die afkampusarea nie bevredigend was nie en dat dit ’n ernstige sekuriteitsrisiko vir studente, personeel en die gemeenskap begin inhou het.

 Ná lang onderhandelinge met die UBK van die NWU en die JB Marks Munisipaliteit, is die Cachet Park CID in April 2018 gestig en het sy werksaamhede op 1 Januarie 2019 begin.  

Twee jaar later is die bewys daar dat die inisiatief ’n groot belegging vir almal is.

Daar is tans meer as 170 CCTV-kameras, en ’n uitstekende 24/7- gewapende reaksiespan.

Prof Fika sê dat, hoewel daar ’n aantal uitdagings op die pad was, die goeie dinge baie meer as die slegtes is.

“Een van die grootste uitdagings was die agterstand wat deur die jare opgebou het met die bekamping van misdaad asook die algemene instandhouding van die gebied – veral die openbare ruimtes. Ons het ook ’n probleem gehad met die munisipaliteit se prestasie ten opsigte van die MvV as gevolg van die verskillende uitdagings wat die JBM ervaar. ’n Proses is egter geïnisieer om die dooiepunt op te los.”

Vir hom was die bevredigendste deel om te ervaar hoe ’n gemeenskap doeltreffend hande kan vat om te doen wat nodig is om ’n buurt te beveilig, selfs al beteken dit dat grondeienaars in werklikheid dubbele belasting moet betaal – aan die een kant aan die munisipaliteit en die regering (SAPD), en aan die ander kant die lidmaatskapgeld aan die CID om die eintlike werk te doen wat die JBM en die polisie oor die afgelope paar dekades nagelaat het. En hy voeg by: ook om te ervaar hoe die Universiteit gewillig was om die ankerfiguur te wees deur ’n rentevrye lening beskikbaar te maak om die projek aan die gang te kry.

Prof Fika raai mense van die gemeenskap aan om nie net te verseker dat die Cachet Park CID voortgaan nie, maar om te verseker dat soortgelyke inisiatiewe ook in ander dele van ons stad onderneem word.

“Prof Fika het die afgelope twee jaar ’n betekenisvolle bydrae gelewer met sy diens aan die projek.  Ek wil hom daarvoor loof en hom bedank dat hy gehelp het om hierdie basis te vestig. Daar is steeds talle uitdagings en ons vertrou dat, met die ondersteuning van die gemeenskap en die volhoubaarheidsplanne wat ons in plek het, die projek nog van krag tot krag sal gaan,” sê prof Daryl Balia, die voorsitter van die Cachet Park CID se direksie en die NWU se adjunk-visekanselier vir die Potchefstroomkampus.

Hy voeg by dat die Universiteit steeds daaraan werk om die model van die Cachet Park CID op die Mahikeng- en Vanderbijlparkkampus te dupliseer. Die inisiatief op die ander kampusse sal nie identies wees aan die een op die Potchefstroomkampus nie, aangesien elke kampus en die verskillende rolspelers in elke stad uniek is.  

........

Prof Fika Janse van Rensburg

Submitted on Thu, 02/18/2021 - 16:00