Burger nou Rugbyinstituut se veldmaarskalk

Dit is ʼn snikhete Donderdagmiddag met die kwik wat so hoog styg soos beurtkraggemoedere. Die Rugbyinstituut van die Noordwes-Universiteit (NWU) se spankamer, aikona, oorlogkamer, is egter koel. ʼn Tafelgrootte replika van ʼn rugbyveld begroet jou as jy instap, asook Burger van der Westhuizen, die NWU Eagles se nuwe Varsitybeker-afrigter.

Hy neem stelling by die tafel in. Agter hom op twee groot tekenborde pryk die name van die spelers wat die Eagles se Varsitybekergroep uitmaak. Langs hulle name is daar ʼn tyd. Elke vyf minute sien hy een van sy troepe vir ʼn een-tot-een-gesprek. Veldmaarskalk Van der Westhuizen en sy burgermag.

“Ons het vanoggend ʼn oefensessie gehad waaroor ek baie opgewonde is,” sê hy. Tydens die volgende sessie gaan daar op teenaanvalle gefokus word. Nee kyk, die wiele op die Fanie du Toit-sportterrein is behoorlik aan die rol.

Sy rugbyfilosofie het nie tierlantyntjies nie: “Hardloop hard en duik hard. Dis so eenvoudig as wat dit is. By die Rugbyinstituut hou ons daarvan om die tempo hoog te hou en ons hou van die fisieke deel van die spel.”

Sy twee adjudante, Chaka Willemse (voorspelers) en Jean Tiedt (verdediging), vorm saam met Van der Westhuizen ʼn formidabele driemanskap, en aan afrigtingservaring skiet die Eagles gewis nie tekort nie. Bert Moolman, as krag- en kondisioneringsafrigter, vul hulle geledere aan.

“As afrigter wil ek drieë gedruk hê om bonuspunte in te samel en met Jean se absolute fokus op verdediging wil ons vanselfsprekend die bal so gou as moontlik weer in die hande kry.”

En, die ouens weet waarvoor hulle onder hulle afrigtingskorps speel. Van der Westhuizen wys na die enkele, geraamde pers trui teen die muur.

“Jy sal sien dis al wat ons opgehang het. Ons gaan daai trui duur maak.” “Duur” beteken die spelers gaan moet werk vir hom. “Duur” beteken hulle gaan hom met moeite verdien.

“Ek is baie opgewonde, maar dit gaan nie maklik wees nie. Ek is aansienlik besiger, die slaap is minder, maar dit is ’n uitdaging wat ek omarm. Ons wil voortbou op dit wat reeds in plek is, maar uit die aard van die saak wil jy ook jou eie idees implementeer,” sê hy.

Dan moet hy nog waaragtig van meet af aan voor ʼn vuurpeloton gaan staan.

“Ja, daai eerste vier wedstryde!” lag hy. “Ons speel UJ, Shimlas, Maties en Tuks ná mekaar.” Dankie tog die eerste drie is tuis.

Van der Westhuizen is sedert 2012 amptelik by die Rugbyinstituut betrokke. Hy het sy tande eers by die Young Guns en later by die universiteit se eerste span geslyp voordat die leisels as breier van die Varsitybekerspan aan hom toevertrou is nadat sy voorganger, André Pretorius, sy heil in Japan gaan soek het. Hy is egter in ander nie-amptelike hoedanighede al veel langer by die instituut.

Daarbenewens is hierdie 57-jarige soveel deel van Potchefstroom soos die Mooirivier. Dis waar hy gebore is en waar hy skoolgegaan het. Gimmies, indien jy gewonder het, en moenie dit durf vergeet nie. Sy pa het by Gimmies skoolgehou, hyself het daar skoolgehou en al sy seuns het daar skoolgegaan.

Nou word die volgende hoofstuk van sy loopbaan geskryf. As die vorige bladsye ʼn maatstaf van sy vernuf is, gaan dié een net so lekker lees.

...

Burger van der westhuizen

Submitted on Fri, 01/27/2023 - 09:55