Burger en Bossie hou NWU onoorwonne

Drie jaar en 21 wedstryde. Dit is hoe lank die Noordwes-Universiteit (NWU) se senior span (dit is nou nie die Varsitybekerspan nie) onoorwonne is.

Saterdagmiddag in Potchefstroom het die NWU ʼn sterbelaaide Wits met 37–19 geklop om met hulle agtste oorwinning van 2022 steeds onoorwonne te bly in vanjaar se Predatorkompetisie.

Die tweede span het 21–7 geseëvier, die derde span 64–12, die o. 21’s 45–35 en die o. 19’s 43–0.

Dit is duidelik dat die NWU se senior span in afrigters Burger van der Westhuizen en Leon Boshoff ʼn droomvennootskap ontgin het.

Dié twee uitgeslape rugbybreine weet hoe om te wen. Die NWU het laas in 2019 teen die einste Wits die onderspit gedelf en daar blyk geen einde aan hierdie stoomroller te wees nie. Ondersteuners sou wel verlede Saterdag benoud gewonder het of die NWU se onoorwonne rekord dalk in die slag gaan bly toe Wits teen rustyd 14–3 voor was.

Wie weet wat Van der Westhuizen en Boshoff vir hulle troepe gesê het, maar dit het gewerk.

Joubert Schoeman, Gerhard Ackerman, Billy Posthumus, Tino Swanepoel en Brandon Keevy het almal ná lemoentyd gaan druk om Wits ʼn nekslag toe te dien.

Komende Saterdag word die Raiders, wat die tweede posisie op die algehele punteleer beklee, op die Fanie du Toit Sportterrein aangedurf.

....

 Leon Boshoff, Burger van der Westhuizen en Jacques Botes.

Submitted on Fri, 06/03/2022 - 12:44