Buitengewone professor by die NWU ontvang nog ’n toekenning

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is geweldig trots op een van sy buitengewone professors, Sam Fullerton, wat onlangs by ’n hoog aangeskrewe bemarkingskonferensie die toekenning vir die 16de beste referaat vir sy navorsing ontvang het.

Sy jongste toekenning was vir die beste referaat in die sportbemarkingsbaan by die konferensie van die vereniging vir bemarkingsteorie en -praktyk (Association of Marketing Theory & Practice). Die referaat, getiteld “Revisiting the Beneficiaries of the SCOTUS Ruling Striking Down PASPA”, was oor ’n uitbreiding op vroeëre navorsing wat hy gedoen het wat die potensiële voordele en begunstigdes ondersoek het van die beslissing van die VSA se hooggeregshof wat ’n wet herroep het wat weddenskappe op sportuitslae in 45 van die 50 state in die VSA verbied.

Die vroeëre studie asook die uitbreiding daarop het op sekondêre data staatgemaak, asook op onderhoude met verskillende kundiges in sportbemarking. Veertien potensiële begunstigdes en 201 voordele is geïdentifiseer. Die resultate van die twee studies is saamgevat in ’n artikel wat in The Journal of Gambling Business and Economics (2020) gepubliseer is.

Professor Fullerton het by twee geleenthede die toekenning vir die beste referaat by ’n konferensie gewen en 11 keer vir die beste referaat in ’n konferensiebaan. Sy ander drie toekennings was vir artikels in vaktydskrifte, insluitende sy artikel “The Four Domains of Sports Marketing: A Conceptual Taxonomy” waaruit daar dikwels aangehaal word.  Daardie artikel is as een van die 20 beste artikels in die geskiedenis van die Sport Marketing Quarterly benoem, en hy het ook hoofstuk 2 van die 4de uitgawe van sy Sports Marketing-handboek daarop gebaseer. Die boek is in April van hierdie jaar gepubliseer en sal in die volgende semester by Chicago Business Press vir universiteite en studente beskikbaar wees. Hierdie boek word wyd in die VSA voorgeskryf, en ook in ander lande soos Suid-Afrika en Nieu-Seeland, en prof Fullerton se naam is baie bekend in sportbemarkingskringe.

Prof Fullerton het ’n BBA, ’n MSc en ’n PhD, alles van die Michigan State Universiteit in die VSA. Hy is tans ’n emeritusprofessor in Bemarking en spesialiseer in Sportbemarking in die uitvoerende MBA-program by die Eastern Michigan Universiteit, en dien as die president van die sportnavorsingsinstituut (Sports Research Institute) in die VSA.  Hy is ook ’n buitengewone professor by die NWU, waar hy as die internasionale moderator en toesighouer oor gehalte van die MBA se Bemarkingsbestuur-module dien – ’n taak wat sedert 2009 aan hom toevertrou is. Ons is trots op sy prestasies en glo dat sy verbondenheid aan die NWU Besigheidskool die bande met die bedryf en ander akademiese en navorsingsinstellings sal versterk.

........

Submitted on Thu, 05/06/2021 - 12:14