Borsvoeding bo

Daar is onweerlegbare bewyse dat om babas die eerste ses maande van hulle lewe te borsvoed, talle langtermyngesondheidsvoordele vir ’n kind inhou. ’n Groot getal Suid-Afrikaanse vroue doen dit egter nie.Chantell Witten, wat onlangs haar PhD aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Sentrum vir Uitnemendheid vir Voeding (CEN) voltooi het, het navorsing gedoen wat daarop gefokus het om die uitdagings te verstaan wat vroue daarvan weerhou om hulle babas uitsluitlik te borsvoed.

Chantell se navorsingsprojek, Lerato Le Mme – wat “moederliefde” in Tswana beteken – het gefokus op die borsvoedingservaring van 430 moeders met babas onder die ouderdom van ses maande, almal uit die Tlokwe-subdistrik in Noordwes.

Sy het met behulp van haar navorsingspan, Noloyisa Matiwane en die meestersgraadstudente Bakang Olifant en Nkululeku Semenekane haar studie laat in 2017 begin en dit onder studieleiding van prof Salome Kruger van CEN en prof Herman Grobler van Gemeenskaps- Psigososiale Navorsing (COMPRES) voltooi.

Moederliefde

Chantell se studie het die 430 moeder-baba-pare op vier spesifieke tye opgevolg: voordat die babas 14 dae oud was, toe op vier tot agt weke, 10 tot 14 weke, en uiteindelik tussen 20 en 24 weke.

Een van die grootste uitdagings wat sy ervaar het, was om die moeders in die eerste twee weke ná die geboorte te evalueer. Die meeste van die babas is buite die eg gebore vir enkelmoeders wat toestemming van die hoof van die hoof van die huishouding moes kry om aan die studie deel te neem,” sê sy.
 
En as die vader van die baba nie die kind erken het of “skadevergoeding betaal het” nie, sou die oudstes in die moeder se huis haar dikwels verbied om inligting oor die baba met die navorsingspan te deel.

Die verband tussen die sosiale omgewing en borsvoeding

Die studie het bevind dat selfs al het ’n aantal vroue die belangrikheid en die waarde van borsmelk erken, persoonlike en sosio-omgewingskwessies dit vir hulle moeilik gemaak het om uitsluitlik te borsvoed.

Chantell sê dat die moeders gerapporteer het dat die stres wat hulle in hulle huisomgewing ervaar hulle vermoë beïnvloed het om voldoende borsmelk vir hulle babas te produseer.  Sy het gevind dat hulle ook die oortuiging gehad het dat indien hulle die baba borsvoed terwyl hulle stres ervaar, hulle letterlik vir hulle baba stres sou voer. Moeders het met borsvoeding gesukkel wanneer verhoudings tuis, finansiële bekommernisse en sosiale omgewings wat nie goedgesind was teenoor borsvoeding nie hulle onder druk geplaas het.

Nog ’n faktor wat ’n rol gespeel het, was dat hulle ’n vrees gehad het dat hulle borsmelk van ’n swak gehalte is. Die moeders het geglo dat hulle as gevolg van hulle eie swak dieet, honger of onvoldoende voeding nie genoeg melk vir hulle babas sou produseer nie.

Hoewel meer vroue as in die verlede deesdae uitsluitlik borsvoed, sou Chantell wou sien dat daar meer ondersteuning en opvoeding oor borsvoeding vir moeders gegee moet word om hulle te oortuig om vir die volle ses maande ná ’n baba se geboorte uitsluitlik te borsvoed.

Chantell Witten.

Submitted on Thu, 06/25/2020 - 10:03