Bestuursrekenmeesterskap-studente blink in wêreldwye assessering uit

Studente van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het weer eens getoon waarom die skool sowel as sy studente so hoog aangeskryf word toe hulle ’n verstommende 85%-slaagsyfer in die bestuursgevallestudie-eksamen van die Chartered Institute of Management Accountants (CIMA) behaal het. Dit is ’n wêreldwye eksamen met ’n gemiddelde slaagsyfer van 69%. Selfs meer indrukwekkend is dat 67% meer studente as die vorige jaar die eksamen aangedurf het.

CIMA is die grootste professionele liggaam vir bestuursrekeningkunde ter wêreld, en om hierdie eksamen te slaag, is deel van die vereistes om as ’n geoktrooieerde bestuursrekeningkundige te kwalifiseer. Studente van die NWU se Bestuursrekenmeesterskap-honneursprogram van 2022 het in November 2022 hierdie internasionale rekenaargebaseerde eksamen geskryf net nadat hulle hulle NWU-eksamen voltooi en geslaag het.

“Hierdie uitslae getuig van die uitmuntende gehalte van die Bestuursrekenmeesterskap-program wat deur die NWU aangebied word, veral as daar in ag geneem word dat dit ’n wêreldwye eksamen is. Bestuursrekenmeesters vul ’n noodsaaklike vaardigheidsgaping in die finansiële en sakesektor in ons land en in die buiteland. Ons verwelkom voornemende studente wat ’n loopbaan op hierdie gebied wil volg en wat die NWU as vennoot kies op hulle reis om die verwerwing van hierdie gesogte benaming moontlik te maak,” sê die adjunkdirekteur van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe, prof Nico van der Merwe.

Bestuursrekenmeesterskap-studente is veral ideaal geskik om projekbestuurders, bestuurskonsultante, finansiële direkteure, hoofbestuurders en entrepreneurs te word.

...

Die BCom Honneurs in Bestuursrekenmeesterskap-klas van 2022.

Submitted on Wed, 02/01/2023 - 11:32