Besigheidskool se MBA Somerstudieskool ’n reusesukses

Die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool het op Vrydag 3 Februarie sy Somerstudieskool vir MBA-studente afgesluit. In die geheel gesien, was die week ’n reusesukses, met studente wat getuig van die geweldige waarde ten opsigte van netwerking, insette deur die hoofredes en ’n beter begrip van wat hulle hierdie jaar die program van op hulle wag.

Benewens die verskillende netwerkingsaktiwiteite en akademiese lesings, het die Besigheidskool die insigte verwelkom van die verskillende gassprekers wat oor verantwoordelike leierskap gepraat het, hetsy deur hulle rolle in korporatiewe bestuur of deur die voorbeeld wat hulle ten opsigte van omgewingsvolhoubaarheid stel.

Die eerste van die twee hoofsprekers was prof Mohlolo Samuel Tsoeu, wat oor die hantering van innerlike konflik met die soeke na verantwoordelike toekomstige leiers gepraat het. Prof Tsoeu het met sy insette gehoop om ’n gesprek onder portuurgroepe en dosente aan die gang te kry ten opsigte van kwessies, filosofieë en sielkundige sake wat interpretasie vereis. Sy doel was om huidige en toekomstige uitvoerende beamptes te oortuig om eienaarskap te aanvaar van die ruimtes waarin hulle werk, asook die probleme wat daar in daardie ruimtes ervaar word, en om oplossings daarvoor te vind.

In die tweede hoofrede van die week het Charné le Roux oor verantwoordelike bestuur in die konteks van omgewingsvolhoubaarheid gepraat. Ons verstaan almal dat dit belangrik is vir maatskappye om volhoubaar te wees, maar daar is ook ’n wanopvatting onder baie mense dat volhoubaarheid bloot ’n kwessie van openbare betrekkinge of ’n luukse belegging is. Volhoubaarheid is in der waarheid ’n langtermynbelegging wat winsgewendheid direk raak. Om volhoubaar te word, vereis ’n proses wat tyd neem en dikwels uitdagend kan wees, maar dit is die pad wat gevolg moet word om op die ou end die oorlewing van ’n sakeonderneming te verseker.

’n Intensiewe week, waar daar baie geleer en gedeel en netwerke gevorm is, is afgesluit toe personeel en studente ’n gala-aand met ’n Duitse tema geniet het. Hulle is met bier uit ’n vaatjie verwelkom en het opgewonde die verhoudings gevier wat in die week gesmee is. Die gasspreker van die aand was Marius Mostert, stigter, voorsitter en hoof- tegniese beampte van die MCORP-groep.

Marius is al amper vyf dekades lank in telekommunikasie en het ’n BIng-graad in elektroniese ingenieurswese van die Universiteit Stellenbosch, asook ’n BCom-graad van die Universiteit van Suid-Afrika. Hy het ook tegnologiebestuur by die Massachusetts Institute of Technology (MIT) in Boston bestudeer. Marius het nie net sy bedryfservaring met die studente gedeel nie, maar hulle ook van die sagte vaardighede vertel wat hy in sy 49 jaar in die snelgroeiendste bedryf in die wêreld opgedoen het.

Die studente was opgewonde om te leer hoe hy, as die destydse hoof- tegniese beampte by Telkom, die analoog-tot-digitale-era bestuur het. Hy het hoogtepunte uit sy loopbaan gedeel, insluitend dat hy die Telkom-netwerk voorberei het vir die 2010 FIFA-Wêreldbeker wat in Suid-Afrika aangebied is, asook vir die IKR se eerste Krieket Wêreldligatoernooi wat tydens dieselfde tydperk op die vasteland plaasgevind het.

Sy passie sluit vermoëbestuur in, en hoe maatskappye uit hierdie verskynsel voordeel kan trek. Sy mening is dat die grootste bedryfsuitdaging in Suid-Afrika vandag is om vas te stel of mense die vermoë het om hulle werk te doen, en indien dit wel so is, of hulle die kapasiteit het om dit te doen.

Marius het met nederigheid vrae beantwoord van studente oor hoe om die regte mentor in jou loopbaan te kies, en hoe om vir ’n junior in jou maatskappy ’n mentor te wees. “Moenie ’n mentor kies wat jou volgens hulle patroon wil vorm nie. Kies liewer iemand wat jou unieke kwaliteite en sterk punte sal identifiseer en jou sal help om te groei. Dieselfde geld vir die kies van ’n mentee. Dit is noodsaaklik om na die beskouings van jou mentee te luister, dit te verstaan en te respekteer,” sê hy.

Dit is veilig om te sê dat die Somerstudieskool in sy doel geslaag het, naamlik om fase 1-studente as groter groep, asook in hulle onderskeie groepe vir hulle opdragte van die jaar, te vestig en te oriënteer; om fase 2-studente weer te aktiveer waar hulle hulle tweede jaar van MBA-studie begin; en om huidige en toekomstige uitvoerende beamptes vir doeltreffende en etiese leierskap en volhoubaarheid te posisioneer.

 

Charne

Charné Le Roux, een van die hoofsprekers tydens die program.

Prof

Prof Mohohlo Samuel Tsoeu het kwessies aangeraak wat persone in uitvoerende posisies raak.

Marius

Marius Mostert het gaste tydens die aflsuitingsgeleentheid toegespreek.

 

Submitted on Wed, 02/08/2023 - 11:05