Begrip van konsensuele niemonogamie (swinging) uit ’n Suid-Afrikaanse perspektief

Hoewel sommige mense dit as taboe beskou, vind swinging – om jou maat toe te laat om geslagsomgang met ander mense te hê – al dekades lank regoor die wêreld plaas.’n Eenvoudige Google-soektog lewer duisende resultate oor die leefstyl op, en tog is bitter min oor swinging uit ’n Suid-Afrikaanse perspektief bekend.

Marina Basson, ’n PhD-student by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Geesteswetenskappe, doen tans navorsing oor ’n begrip van die Suid-Afrikaanse perspektief van die swinger-verskynsel.

Haar studie kyk na die impak wat swinging op huwelikstevredenheid kan hê en wat die potensiële voor- en nadele van hierdie praktyk is.

Dit is belangrik om daarop te let dat die studie nie probeer om enige morele oordele oor swinging te vel nie, maar om bewysgebaseerde navorsing te lewer oor ’n verskynsel wat beslis nie genoeg bestudeer word nie.

Haar studie, getitel “Swinging: A sociological conceptual framework of the influence of consensual non-monogamy on the marital satisfaction of South African couples”, het verlede jaar amptelik begin, met prof Werner Nell en dr Jacques Rothmann van die Skool vir Sosiale Wetenskappe as studieleiers.

Die belangrikheid van die studie

Mense se seksuele gedrag in die vorm van konsensuele niemonogamie is in die Verenigde State en in Europa goed gedokumenteer, maar nie in Suid-Afrika nie.  Marina sê dat met Suid-Afrika wat geweldige politieke en sosiale herstrukturering ondergaan het, moet die impak van konsensuele niemonogamie ondersoek en verklaar word.  

“My studie sal potensiële swingers sowel as beraders help om die voordele en die potensiële slaggate wat met die leefstyl verband hou, beter te verstaan,” sê sy.  

Hoewel die studie nog aan die gang is, is onderhoude reeds met 22 deelnemers gevoer en voorlopige bevindings dui daarop dat deelnemers oor die algemeen van mening is dat die voordele wat met die leefstyl verband hou, baie swaarder as die nadele weeg.

Daar is verder ook spesifieke identifiseerbare eienskappe van groter betrokkenheid by swinging: die meerderheid van die deelnemers is godsdienstig en het hulle godsdienstige oortuigings met die leefstyl versoen, en uitdagings soos jaloesie word algemeen ervaar. Bykomende onderhoude en ontledings sal nog volg.

Marina se navorsing sal ’n beduidende bydrae maak tot die begrip van hierdie verskynsel uit ’n Suid-Afrikaanse perspektief, en ook faktore identifiseer wat ’n impak het op die verhoudingsdinamika van paartjies in Suid-Afrika wat by swinging betrokke is.

Marina Basson.

Submitted on Wed, 10/21/2020 - 16:06