BAQONDE se doelwit is om ’n wêreld van hoër onderwys oop te maak

Dit is noodsaaklik dat Afrikatale as onderrigtaal bevorder word indien ons wil hê dat ons kultuurerfenis bewaar moet bly, leeruitkomste moet verbeter en taalhindernisse verminder moet word. Dit het weer duidelik geword by die 2023 BAQONDE-kongres wat van 1 tot 5 Mei by die Noordwes-Universiteit (NWU) gehou is.

BAQONDE is ’n samewerkingsprojek tussen die Europese Unie, vier Suid-Afrikaanse universiteite (die NWU, die Universiteit van KwaZulu-Natal, die Universiteit van Wes-Kaapland en Rhodes Universiteit), Trinity College Dublin (Ierland), die Universiteit van Groningen (Nederland) en die Universiteit van Salamanca (Spanje). Die doel van hierdie projek is om te help met die implementering van die Taalbeleidraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings, wat die ontwikkeling van Afrikatale as onderrigtaal ’n prioriteit maak.

Daar was elke dag van die kongres ’n aantal aanbiedings onder ’n oorkoepelende tema: historiese en kulturele fees van die Noordwes Provinsie; meertalige beleide in instellings van hoër onderrig: van beleid tot praktyk; persone wat dit moontlik maak om die taalbeleid te implementeer: meertaligheid in aksie; tegnologie en meertaligheid in instellings van hoër onderrig, en laastens, meertaligheid in aksie.

“Dit is ’n bekende feit dat studente beter vaar wanneer hulle in hulle moedertaal leer. Met dit in ag genome, wil ons ’n geslag burgers bemagtig – deur moedertaalonderrig – om meer produktiewe en beter vakkundiges te wees,” sê prof Pedro Alvarez van die Universiteit van Salamanca.

Volgens dr Keaobaka Seshoka, direkteur van die NWU se Taaldirektoraat, was een van die hoogtepunte van die BAQONDE-kongres die samewerking tussen die verskillende deelnemende universiteite: “Dit beteken dat ons nie die wiel van vooraf hoef uit te vind nie. Ons deel ons hulpbronne en ons deel ons kennis. Ons hoef nie van voor af te begin nie. Dit stel ons ook in staat om ’n oudit van al die taalhulpbronne tot ons beskikking te doen en om vas te stel hoe ons mekaar kan help om ons gesamentlike hulpbronne aan ons studente beskikbaar te stel.

“Dit is ’n baie doeltreffende manier om ons impak te maksimaliseer. Ons wil op die ou end hê dat ons studente moet uitblink,” sê prof Alvarez.

Dr Seshoka verduidelik verder dat meer op die digitale gebied gedoen kan word om inheemse tale daar sigbaar te maak, en om toe te laat dat hulpbronne vir studente meer toeganklik raak. Alvarez stem saam: “Ons het soveel bekwame mense in soveel tale in Suid-Afrika, maar hulle was soos eilande in hierdie oseaan van opsies. Ons verbind nou hierdie eilande en ons verbind die strome. Dit gaan alles daaroor dat ruimtes soos hierdie geskep word waar ons ons idees kan saamgooi.”

Dr Seshoka het afgesluit deur te sê: “BAQONDE het ons gehelp om te verstaan wat ander universiteite ten opsigte van meertaligheid doen. Ons hoef nie in silo’s te werk nie. Ons moet tot voordeel van ons studente met mekaar saam werk.”

 

...

Dr Keaobaka Seshoka saam met prof Pedro Alvarez op die Potchefstroomkampus.

Submitted on Tue, 05/09/2023 - 15:05