Antieke tekste en die interpretasie daarvan vir vandag se samelewing

Hetsy hulle geskiedkundig waar of fiksie is, tekste verskaf nie net inligting nie, maar is ’n dryfkrag agter ideologiese verandering vir hulle teikengehoor, en spoor die lesers daarvan aan om nuwe gedrag, soos morele waardes en goeie etiese optrede, te aanvaar.

Die persoon by die Noordwes-Universiteit (NWU) wat lig werp op hierdie tekste is prof Risimati Hobyane, ’n senior lektor in Grieks en Nuwe Testament studies van die Skool vir Antieke Tale en Teksstudies by die Fakulteit Teologie.  

Sy navorsing fokus op die letterkundige ontleding van antieke tekste en hoe dit kon bygedra het om die godsdienstige status quo of ideologieë in die wêreld van die eerste lesers daarvan uit te daag. “Die praktiese lesse en leringe daarin dien ook as ’n uitdaging vir eietydse lesers, veral lesers uit Afrika, om hulle eie omgewings en maatskaplike probleme te ondersoek,” sê hy.

Prof Hobyane, wat ook ’n navorsingsdirekteur by die navorsingsfokusarea Antieke Tekste: Teks, Konteks en Ontvangs is, spesialiseer in die skrywes van Johannes en studie van die Septuagint en het twee doktorsgrade op hierdie twee gebiede van sy navorsingsfokus.

Die skrywes van Johannes is die versameling van Nuwe Testamentiese werke wat tradisioneel aan die apostel Johannes, Johannes die Evangelis of aan die Johannese gemeenskap, toegeskryf word.  

Die Septuagint is die Griekse vertaling van die Hebreeuse Bybel, wat die Christene as die Ou Testament ken, en studies behels dat daar met vertaalde literatuur gewerk word, wat ’n toepaslike metodologie vereis.

“My navorsing is gemik op die ontleding van antieke tekste en hoe hulle moontlik verandering in die samelewing kan beïnvloed. Dit is my akademiese plig om Bybelse tekste op so ’n manier te ontleed dat die leser kan weet en verstaan wat in die betrokke teks bedoel word en wat van hulle verwag word.”

Hy sê dat sy kundigheidsgebied onder narratologiese pragmatiek val. Dit is ’n gespesialiseerde studiegebied wat fokus op hoe tekste lesers betrek en uitnooi om daaraan deel te neem wanneer hulle dit lees. ’n Deeglike en verantwoordelike ontleding van Bybelse tekste speel ’n betekenisvolle rol om die begrip vir die Bybel in gemeenskappe aan te moedig, voeg hy by.

Nuwe gebied of uitbreiding?

 “Ek brei uit op die werk van ander, aangesien die gebied van pragmatiek ’n lang geskiedenis het. In my tweede PhD-tesis het ek byvoorbeeld die idee gebruik om die preformatiwiteit van literêre instrumente in die Vierde Evangelie te ontleed. Dit is aanvanklik bestudeer deur my studieleier, prof Jan van der Watt, wat die skrywer van die boek An Introduction to the Johannine Gospel and Letters is.”

Prof Hobyane is ook ’n predikant, en hy beskou sy werk in die kerk as ’n uitbreiding van sy gemeenskapsbetrokkenheid, wat iets is wat die NWU aanmoedig.  

“Die twee sfere van kundigheid, naamlik om ’n predikant in ’n kerk te wees, asook ’n navorser wat tekste ontleed, vul mekaar aan. Ek het elke dag vir akademiese publikasies met die teks te doen en ek gaan in die gemeenskap uit om dit te verkondig.”

Hy beskou sy navorsing as dat hy ’n positiewe bydrae lewer in die Fakulteit Teologie, wie se missie dit is om ’n impak in gemeenskappe te hê deurdat hy gegradueerdes holisties met relevante Bybelse kennis en vaardighede toerus.  

Prof Risimati Hobyane

Benewens dat hy ’n navorser en ’n predikant is, is prof Risimati Hobyane ’n passievolle atleet wat al talle marathons voltooi het en aan verskeie Comrades Marathons deelgeneem het.

 

Submitted on Fri, 08/30/2024 - 10:51