ANSTI stel dekaan op sy interim raad aan

NWU-personeel lewer steeds beduidende bydraes, nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal. Die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, prof David Modise, is op die interimbestuursraad van die Afrika Netwerk van Wetenskaplike en Tegnologiese Instellings (African Network of Scientific and Technological Institutions, ANSTI) aangestel.

Prof Modise sal twee jaar lank as lid op hierdie raad dien, beginnende op 1 Maart 2023.

ANSTI is in 1980 gestig met finansiële ondersteuning van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kultuurorganisasie (UNESCO), die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) en die Duitse regering. Dit sluit instellings in Afrika in wat by universiteitsvlakopleiding en -navorsing op die gebied van wetenskap en tegnologie betrokke is.

Prof Eddie Mwenje, voorsitter van die ANSTI-interimbestuursraad, sê hierdie raad speel ’n strategiese rol in die beheer, administrasie en bestuur van ANSTI- aktiwiteite.

Op sy hoogtepunt het lidmaatskap ongeveer 200 instellings in 40 Afrika-lande suid van die Sahara ingesluit. Een van die funksies van die interimbestuursraad sal wees om ANSTI-lidmaatskap te laat herleef, en gevolglik ’n substantiewe bestuursraad aan te stel.

....

 Prof David Modise, uitvoerende dekaan van die NWU se Fakulteit van Natuur- en Landbouwetenskappe.

Submitted on Mon, 04/03/2023 - 11:02