Alumnus ryg nominasies vir Mzansi Youth-toekennings in

Vincent Kheswa is ’n man van vele talente. Hy is bekend as opvoeder, digter, skrywer, openbare spreker, liedjieskrywer en opnamekunstenaar. En nou is hierdie talentvolle alumnus van die Noordwes-Universiteit (NWU) ook ’n genomineerde in vele kategorieë in die jaarlikse multibedryf-Mzansi Youth-toekennings (MYA’s).

Vincent het in ’n aankondiging op Facebook die nuus van sy nominasies in drie kategorieë gedeel, naamlik:

  • Beste Boek: Is South Africa ready for a female president? ’n Geskiedenis van vroulike leiers in Afrika.
  • Beste Digter: Vir die gedig oor die opname van sy eksperimentele projek (EP*).
  • Beste album/Saamgestelde opname (mixtape): Kgoshihadi EP (die klankbaan van sy boek)

Meer oor die toekennings

Die Mzansi Youth-toekennings verteenwoordig ’n landwye erkennings- en opheffingsinisiatief wat deur langtermynvennootskappe met die wenners en die genomineerdes aan die jeug van Mzansi vaardighede en mentorskap wil verskaf, en hulle wil ontwikkel en bevorder.

Wat hierdie toekennings uniek maak, is die benadering daarvan. In plaas van ’n eenmalige kontantprys, kry die wenners hulpbronne, reklame en mentorskap, en daar word vir ’n jaar lank met hulle saamgewerk. Die toekennings speels voorts ’n baie belangrike rol daarin om die jeug op ’n konstruktiewe en progressiewe manier te verenig.

Die wenners sal aangekondig word ná ’n openbare SMS-stemtydperk wat op 2 Mei sal begin.

’n Trotse alumnus

Vincent het ’n BSc-graad in Besigheidswiskunde en Informatika (BWI) van die NWU se kampus in Vanderbijlpark, en werk tans as interne ouditeur by Absa. Volgens Vincent is daar geen verskoning om nie jou drome waar te maak nie.

“As jong man uit ’n minderbevoorregte agtergrond het mense my laat glo dat sukses by my sal verbygaan en dat ek nie veel sal bereik nie. Vandag, nadat ek sukses gesmaak het en steeds groei, weet ek dat enigiets moontlik is,” sê Vincent, wat ook as lid van die kampus se alumni-advieskomitee gedien het.

EP* verwys na ’n musiekopname wat ’n Eksperimentele Projek (EP) genoem word. Hierdie opname stel die gehoor bekend aan nuwe musiek voordat die kunstenaar ’n amptelike vollengte-album vrystel.

Vincent Kheswa.

 

 

 

Submitted on Thu, 04/23/2020 - 10:51