Alumni vergader by tuiskomsgeleentheid om ’n impak te maak

As jy gedink het ’n reünie is niks anders as ’n nostalgiese reis na die verlede nie, maak jy ’n groot fout. Vir die Jong Alumni-groep van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark verleen hul jaarlikse reünie – of tuiskomsgeleentheid – aan hulle die geleentheid om ’n positiewe impak op die lewens van toekomstige gegradueerdes te maak.

Op Saterdag 28 September het meer as 150 lede van hierdie groep vir nog ’n onvergeetlike samekoms by hulle alma mater vergader.   

Dit is hierdie jaar die agtste weergawe van die tuiskomsgeleentheid, en volgens Innocentia Pitso, wat aan die hoof van die groep se uitvoerende komitee staan, het hierdie jaar alle verwagtings oortref.  Die stampvol program het inheemse speletjies, ’n pretloop en die gebruiklike piekniek op die geil, groen walle van die Vaalrivier ingesluit.

Innocentia verduidelik dat die jaarlikse tuiskomsgeleentheid gegrond is op die filosofie om dit wat jy ontvang het, ook aan ander te gee. Aangesien die deelnemende alumni soveel ontvang het – wat formele sowel as informele opvoeding in hulle tyd op die kampus betref – wil hulle natuurlik hê dat ander ook dieselfde belonings ontvang as wat hulle gehad het.   

Sedert die formele begin van die geleentheid in 2015 het hierdie alumnigroep al amper R50 000 ingesamel om huidige studente deur middel van die kampus se Veertjiefonds (NWU Feather Fund) te help.

Volgens Zanele Ngobese, alumnikoördineerder, dra die deurlopende ondersteuning van die groep ongelooflik baie by tot die vestiging van ’n kultuur van alumni wat gee. Dit is ook die getuie van die NWU se handelsmerkeienskappe van maatskaplike geregtigheid en ’n sorgsaamheidsetiek.

“Ons wil almal die wêreld ’n beter plek maak,” sê Zanele, en voeg by dat deur hulle tyd, talente en hulpbronne te deel, alumni letterlik iets wat hulle self ontvang het aan ander studente gee.” Ek loof hierdie groep jong alumni dat hulle na vore kom en die lewens van verdienstelike studente verander deur hulle in staat te stel om hulle universiteitsopleiding te ontvang.”

Die uitvoerende komitee van die groep was verantwoordelik vir die reël van die geleentheid en bestaan uit die volgende alumnilede:

  • Innocentia Pitso
  • Morena Tsotetsi
  • Lerato Mofokeng
  • Moeketsi Tebakang
  • Tears Makgale
  • Akona Dalasile
  • Hloni Moheta

Alumni van regoor die land het aan die jaarlikse tuiskomsgeleentheid deelgeneem.

Zenzile Rens, Morena Tsotetsi en Nosi Joseph Mbele is reeds vriende vanaf hul studentedae.

 

 

 

Submitted on Wed, 10/02/2019 - 16:18