Word ʼn taaltegnoloog en toor met programmering, tale en inligtingstelsels

Het jy geweet dat taal en rekenaarprogrammering pasmaats kan wees? Registreer nou by die Noordwes-Universiteit vir die geherkurrikuleerde driejaargraad in Taaltegnologie om die moontlikhede van dié ongewone kombinasie te ontgin.

Hierdie studierigting spesialiseer in die gebruik van natuurliketaalprosessering om mensetaaltegnologie te ontwikkel. Dit beteken dat sagteware op jou rekenaar of selfoon geleer word om jou gesels- en skryftaal te herken, verstaan en selfs te produseer.

Binne die Suid-Afrikaanse konteks het taaltegnoloë en rekenaarlinguiste die vaardighede en kennis om hulpbronskaars tale in die land te help bevorder. Die Noordwes-Universiteit se Sentrum vir Tekstegnologie, CTexT®, spits hulle toe op navorsing oor en die ontwikkeling van produkte en dienste om die interaksie tussen mense en rekenaars te vergemaklik. CTexT® bied ook internskap-geleenthede aan nagraadse taaltegnologiestudente waar hulle aan praktiese taaltegnologie-projekte kan deelneem en waardevolle werksondervinding opdoen.

Taaltegnologie- en rekenaarwetenskapstudente wat met ʼn BA-honneursgraad in Taaltegnologie voortgaan, ontwikkel verdere kennis oor die meer gevorderde aspekte van rekenaarlinguistiek, masjienleer (onderafdeling van kunsmatige intelligensie) en inligtingherwinning (data mining).

Met ’n kwalifikasie in Taaltegnologie kan jy plaaslik of oorsee die moontlikhede van natuurliketaalprosessering verder ontwikkel. Dink aan kletsoutomate (chatbots), masjienvertalers soos Google Translate of CTexT® se eie Autshumato, spraakherkenningsassistente soos Siri of Alexa en ander elektroniese skryfhulpmiddels.

Groot navorsing- en ontwikkelingsgroepe soos Google, Facebook, Microsoft en ander is voortdurend besig om natuurliketaalprosessering verder te verfyn en uit te brei, en hulle soek jou vaardighede.

Besoek CTexT® se webblad by humanties.nwu.ac.za/ctext vir meer inligting en beursgeleenthede.

Submitted on Mon, 08/16/2021 - 14:27