Wihan Lubbe in Proteas-groep

Gedenkwaardige gebeurtenisse op die krieketveld kan talle vorms aanneem – ’n goedbeplande dryfhou verby dekpunt om onder die moeilikste omstandighede ’n honderdtal aan te teken, ’n vangskoot wat alle natuurwette oortree, of ’n boulbeurt wat met soveel venyn en daadkrag afgelewer word dat die opposisie nie hulle wenlopies kan aanteken nie.

Wihan Lubbe het vele waardevolle lopies aangeteken en het talle gesogte paaltjies ingeoes, maar dit is sy leierskap tydens die Noordwes-Universiteit (NWU) se wonderlike 2017-seisoen wat veral onthou sal word. Lubbe, as kaptein, het van voor af leiding geneem.

Sy groep het hulle seisoen afgeskop deur die Varsity-kriekettoernooi op tuisbodem te wen. Beste universiteitekrieketspan in Suid-Afrika – gedoen. Sy span het Suid-Afrika daarna by die Red Bull-kampuskriekettoernooi in Sri Lanka verteenwoordig, waar hulle Australië, Indië, Pakistan en Bangladesj op pad na die finaal vermorsel het. Die gasheerland het nooit ’n kans gestaan nie. Beste universiteitekrieketspan ter wêreld – gedoen.

Stap aan tot by 2021, en die 28-jarige is opgeroep om aan te sluit by die Proteas se T20-groep wat teen Pakistan in die Republiek te staan gaan kom. Lubbe se medepligtige by die NWU, Janneman Malan, is ook in hierdie groep. Malan en Lubbe het in hulle glorieryke dae in Potchefstroom ’n formidabele openingsvennootskap gevorm, hoewel Malan sy voormalige kaptein gewen het in die kompetisie om ’n plek in die nasionale span te bekom.

Lubbe het in 2012 sy Lys A-debuut vir die Noordwes Drake teen die Vrystaat gemaak teen die toekomstige Proteas se Rilee Rossouw en Duanne Olivier. Huidige Protea-staatmaker Rassie van der Dussen en voormalige Protea-bouler Garnett Kruger was ook in die Drake-span. Lubbe het twee boulbeurte vir nege lopies afgestuur en nie die geleentheid gehad om die wilgerlat te swaai nie.

Hy het die volgende jaar sy eersteklasdebuut vir die Drake gemaak en het sedertdien al in 46 eersteklaswedstryde, 53 Lys A-wedstryde en 48 T20’s gespeel.  Die linkshandige kolwer en regshandige wegbreekbouler se gemiddeldes is 33,87, 26,80 en 21,97 met die kolf in die onderskeie kodes, en 40,19, 38,13 en 30,56 met die bal.

Lubbe het sy Protea-kleure tydens die onlangse reeks teen Pakistan in hul vier T20-kragmetings ontvang. 

 
Submitted on Mon, 05/10/2021 - 10:07